Local newsNewsSport

Emosionele verjaardaggeskenk vir Bulls ondersteuner uit Natal

Toetie Prinsloo beskou homself as die grootste Bulls-ondersteuner in Natal en toe besluit sy dogter en skoonseun die afgelope naweek om aan hom ’n baie spesiale 60e verjaarsdaggeskenk te gee.

Die afgelope Saterdag se klipharde SupeRugby-wedstryd op Loftus Versfeld sal vir altyd besondere betekenis hê vir die Groenewald- en Prinsloo-gesinne van Richardsbaai.

Toetie Prinsloo (59) woon sy lewe lank in Natal, maar beskou homself as een van die Bulls se heel grootste ondersteuners. Die enigste probleem is dat hy nog nooit in sy lewe die geleentheid gehad het om sy gunstelingspan op Loftus Versfeld te sien speel nie.

Prinsloo word op 13 Mei ‘n volle 60 jaar oud en sy dogter, Lelanie Groenewald, en haar man, Charl, het besluit dat daar geen beter geskenk aan hom kan wees as om hom Pretoria toe te bring en sy span in lewende lywe in aksie te sien nie.

Al die reëlings is hierna in groot geheimhouding getref. Daar is besluit dat die twee gesinne vir die langnaweek Pretoria toe sou kom vir die wedstryd tussen die Bulls en die Lions, aangesien dit die tuiswedstryd die naaste aan Prinsloo se verjaardag sou wees.

Prinsloo en sy vrou, Linda, is net ingelig dat hulle klere moes pak vir die naweek en hul ID dokumente moes saambring vir die vliegtuigrit vanaf Durban. Eers op die lughawe is hulle ingelig dat hulle op pad was Gauteng toe en dat die Groenewalds vir Toetie Prinsloo met ‘n wedstryd op Loftus Versfeld sou bederf.

Om die dag meer spesiaal te maak, het die Groenewalds ook vooraf met die Bulls se personeel gereël om ‘n span-trui deur al die spelers te laat teken, wat toe voor die wedstryd aan Prinsloo oorhandig is. Hy het dit dadelik aangetrek om op Loftus Versfeld te dra.

Die Groenewald-gesin is eintlik Sharks-ondersteuners, maar hulle het besluit om Saterdag die Lions te ondersteun, net om die gees ‘n bietjie aan te wakker op hul avontuur. Gelukkig vir Toetie en Linda Prinsloo het die Bulls dié spannende en aanskoulike wedstryd gewen, wat hul spesiale naweek vervolmaak het.

Vidoe:

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button