Local newsNewsSchools

Pretoria seun hertel na skedelbreuk

'n Bekende Pretoriase prokureur meen sportowerhede moet hokkiespelers verplig om kopskerms en beskermende klere tydens wedstryde te dra. Sy seun het die afgelope naweek skedelbreuk opgedoen nadat 'n hokkiebal hom teen die kop getref het.

Hy sal nou maar sy “grootman” aanmoedig om saam met hom te draf, sê die Pretoriase prokureur, Willie Spies, nadat sy oudste seun Saterdag in ‘n hokkiewedstryd in Bloemfontein skedelbreuk opgedoen het.

Wian Spies (16), ‘n leerling aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), mag nie meer aan kontaksport deelneem nie nadat ‘n hokkiebal hom Saterdag, in ‘n wedstryd teen Grey-kollege in Bloemfontein, hard teen die kop getref het.

Wian is dieselfde dag nog in die Mediclinic Bloemfontein geopereer om ‘n skedelfraktuur bo sy regteroor te herstel. Die bal het sy skedel laat induik.

“Hy het net sport vir sy eie plesier beoefen en was nooit ‘n groot sportster nie,” het Willie Dinsdag vertel. “Hy sal nou op sy akademie fokus.”

Wian het vir Affies se vierde hokkiespan uitgedraf.

Willie sê: “Ek het jare gelede ‘n paar keer aan die Comrades marathon deelgeneem, maar het ophou oefen. My ou lyf het nou weer oefening nodig en Wian is die ideale drafmaat.”

‘n Neurochirurg het aanbeveel dat die “duik” dadelik reggemaak word. Daar was baie bloeding weens die skedelbreuk — nie van die brein nie.

Die operasie, waarin die gebreekte deel uitgesaag, herstel en teruggeplaas is, was ‘n sukses.

“Wian het voor die operasie grappies gemaak. Hy het gelukkig ‘n goeie humorsin,” vertel Willie.

Hy meen die sportowerhede moet wetgewing daarstel wat hokkiespelers verplig om kopskerms te dra.

“Die kinders het nie voldoende beskerming teen die balle nie. ‘n Hokkiebal is harder as ‘n krieketbal. Dit was maar ‘n tipiese sportbesering en ons gaan nie enige stappe doen nie,” sê Willie.

“Die neurochirurg het gesê dat hy meer kinders wat harsingskudding tydens hokkiewedstryde opdoen, behandel as dié wat rugby speel.”

Wian kan teen Woensdag ontslaan word.

“Hy behoort eers volgende kwartaal terug te gaan skool toe. Een van die onderwysers het self aangebied om hom tuis te onderrig,” sê Willie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Lees ook: Beserings knel Bulls voor oorsese toer

Garsfontein is Pretoria se enigste hoop in Tuksreeks

Swimming star now targets Olympic Games after setbacks

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button