18 plakkershutte glo op een erf
Ongeveer 18 plakkershutte is op ’n eiendom in Jan Niemandpark opgerig en veroorsaak glo ’n oogseer vir besorgde inwoner.
‘n Woonerf met ‘n vervalle huis en sowat 18 plakkershutte in Jan Niemandpark is in die kollig nadat ‘n besorgde inwoner ‘n bohaai opgeskop het.
Die inwoner, wat verkies om anoniem te bly, sê daar woon ten minste twee mense in ‘n plakkershut.
Die inwoner beweer daar is slegs twee toilette op die eiendom en geen waskamer nie. “Ek weet nie waar die mense bad nie, maar dit kan nie higiënies wees nie.”
Elektrisiteit na die perseel is in Desember afgesny.
“Die bewoners van die plakkershutte betaal tussen R300 en R350 per maand terwyl die huurders van die huis sowat R2 500 per maand opdok. Die huis is vervalle en ‘n veiligheidsrisiko,” sê die klaer.
Hy sê kabels is van die hoofhuis na die verskeie plakkershutte aangelê om elektrisiteit aan hulle te verskaf wanneer die krag wel aangeskakel is.
Rekord kon nie die huiseienaar in die hande kry om kommentaar oor die eiendom te verskaf nie.
Patronella Molaeng, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê eiendomsgebruik word deur die Tshwane-dorpsbeplanningskema gereguleer.
Sy het gesê die huiseienaar moet toestemming van die metro hê om bykomende wooneenhede op ‘n eiendom op te rig. Daar is reëls waaraan voldoen moet word om toestemming te verkry.
Hierdie regulasies het te make met die omgewing, die omvang van die geboue, die hoogte, grootte van vloeroppervlakte, boulyne, titelaktes en verskeie ander.
“Indien die eienaar hierdie reëls oortree, kan die metro aan die eienaar ‘n kennisgewing van oortreding bedien en vereis dat aan die grondgebruiksregte voldoen word,” sê sy.
Sy sê indien die eienaar versuim om ‘n regstelling te maak kan die metro een van twee stappe volg – óf ‘n strafproses waarby die eienaar ‘n boete kry óf die metro kan ‘n interdik verkry wat enige onwettige grondgebruik op die eiendom verbied.
Molaeng het gesê die metro het reeds ‘n ondersoek van stapel gestuur en sal op ‘n later stadium terugvoer gee.
Lees ook: Metro se eiendomsbelasting glo onwettig
Voertuig stort onwettig in oop veld
Onwettige hutte op eiendom ontstel bure
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.


