Mediese professor behaal mylpaal
Bekende vaskulêre chirurg behaal mylpaal met 500e aneurisme-herstel.
Professor Cobus van Marle het verlede Woensdag ’n uitsonderlike mylpaal behaal toe hy sy 500e endovaskulêre aneurisme-herstel by Netcare Unitas-hospitaal uitgevoer het.
Professor Van Marle het dié operasie op Christiaan van Wyk (74), ’n inwoner van Faerie Glen, uitgevoer. Van Wyk, ’n afgetrede onderwyser en skoolhoof, het voor die tyd gesê dat hy, ondanks ’n bietjie senuweeagtigheid, troos vind in die wete dat professor Van Marle al 499 ander aneurismes suksesvol herstel het. “Dit voel asof ek die lotery gewen het,” het Van Wyk laggend gesê.
Van Wyk het bygevoeg dat hy teruggaan werk toe sodra hy weer op die been is, en dat hy beslis weer ’n paar rondtes gholf gaan speel. “Ek het al saam met manne soos Gary Player op ’n senior toer gespeel en ek geniet dit om minstens twee maal ’n week gholf te speel. Sodra ek kan, gaan ek beslis weer gholfbaan toe.”
Professor Van Marle het in 1998 Suid-Afrikaanse geskiedenis gemaak toe hy hierdie baanbrekerprosedure, wat in die vroeë 1990s deur ’n Argentynse vaskulêre chirurg ontwikkel is, vir die eerste keer in ons land uitgevoer het. “Hierdie prosedure is tans die beste manier om aneurismes te herstel. Die sterftekoers met hierdie prosedure is 1.6%, veel laer as die 4-5% wat verwag kan word met die tradisionele ‘oop’ operasie, waar ons deur die pasiënt se buik sou moes werk.”
“Nie net is die sterftekoers laer nie, maar die pasiënte herstel ook baie vinniger. Met hierdie operasie kan die pasiënt reeds binne ’n paar uur ná die operasie eet, en binne twee tot drie dae herstel en huis toe gaan, veel vinniger as met die ou prosedures,” het Van Marle bygevoeg.
Voor die operasie het Van Marle gesê dat mans bo 60 die grootste risiko het om ’n aneurisme te ontwikkel. “Mans bo 60 wat hoë bloeddruk of hoë cholesterol het, asook dié wat rook, loop die grootste gevaar om só ’n aneurisme te ontwikkel. Ek raai enige persoon wat ’n risiko het om ’n aneurisme te ontwikkel aan om so gou moontlik by ’n algemene praktisyn uit te kom sodat hulle verwys kan word na ’n vaskulêre chirurg wat hulle kan help.”
Die mylpaaloperasie is in Netcare Unitas-hospitaal se ‘Hybrid Theatre’ uitgevoer. Die jongste mediese en tegnologiese toerusting word in hierdie teater gebruik, wat in 2008 as die eerste teater van sy soort in Afrika in werking gestel is. Waar ‘oop’ en endovaskulêre chirurgie voorheen in afsonderlike teaters uitgevoer moes word, kan beide nou in dieselfde teater gedoen word.
Die suksesvolle operasie op Van Wyk was professor Van Marle se derde soortgelyke operasie dié dag. Die operasie het net meer as een uur geduur en sal hopelik sorg dat Van Wyk weer binnekort sy gholf kan geniet.
Lees ook:
Young woman vanishes before crash
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.









