Vrou se motor beland amper in reuse gat in pad
'n Vrou van Wonderboom-Suid het onlangs amper in 'n twee meter diep gat in die middel van Rosestraat ingery.

‘n Vrou van Wonderboom-Suid het haar Donderdagoggend boeglam geskrik toe ‘n diep gat skielik in die pad voor haar opdoem.
Lanie Meyer (44) was omstreeks 06:00 op pad na die Universiteit van Pretoria, toe sy in Rosestraat, in Rietondale, in ‘n hoop grond vasry in ‘n poging om die gevaarlike gat mis te ry.
Die gat met ‘n diepte van sowat twee meter was net met ‘n rooi en wit band afgesper.
“Ek het skaars 50km/u gery toe ek die reuse-gat voor my sien. Ek het net geweet, as ek nie uitswaai nie gaan ek sterf,” het ‘n emosionele Meyer gesê.
Die ‘n rooi en wit band was so hoog gespan dat haar motor onderdeur gery het. Dit het ook nie in die motor se ligte weerkaats nie.
“Ek ry die pad gereeld en het net gister daar verby gery. Daar was toe nog niks,” vertel sy.
“Dit was vanoggend so donker, met die straatligte wat reeds afgeskakel was, dat ek omtrent bo op die gat was voor ek dit gesien het. Daar was geen waarskuwingstekens nie.”
‘n Ooggetuie, Riana van der Westhuizen, het beaam dat daar geen waarskuwing was om aan te dui dat daar ‘n oop gat in die middel van die pad is nie.
“Dit is ‘n gat wat oopgegrawe en net so gelaat is.”
Meyer se motor is beskadig, maar wag sy nog vir ‘n volledige verslag van die versekeringsmaatskappy.
“Dit was ‘n reuse-skok vir my, maar ek dank die Here dat ek nie seergekry het nie.”
Nog ‘n misnoegde inwoner is Nico Lyon wie se watertoevoer in Rosestraat Woensdagmiddag afgesny is. Dit is vermoedelik deur metro-amptenare gedoen om aan waterpype te werk.
“My vrou is op dialise, so dis onaanvaarbaar dat ons al vir amper 24 uur sonder water sit en dit nogal sonder enige waarskuwing,” sê hy.
Kommentaar van die metro word nog afgewag.
Lees ook:
Work on bulk water system on track
Hundreds of new free Wi-Fi sites to be deployed
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

