Afrikaanse skole het Dinsdag die eerste geveg in die stryd gewen om te verhoed dat hulle deur die provinsiale onderwysdepartement gedwing word om van enkelmedium na parallelmedium te verander.
Paul Colditz, hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het ‘n beslissing deur die Hooggeregshof in Johannesburg oor die aangeleentheid verwelkom.
“Wat die regter besluit het is dat skole die reg het om te besluit wie op hulle waglys gaan. Daar is ook besluit dat die skole die reg het om hul eie taalbeleid op te stel, en dat die department die skole se besluite moet aanvaar.”
Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het onlangs aangekondig dat daar beplan word om sowat 124 skole wat as “onderbenut” beskou word van enkelmedium na parallelmedium te verander.
Lesufi het gesê dat dié plan daarop gemik is om die probleem van oorvol skole op the los.
Fedsas het die departement se voorstel teengestaan, en het gesê dat ‘n skool se taal- en toelatingsbeleid slegs deur die skool se beheerliggaam bepaal mag word.
Colditz het gesê dat die oorskakeling sal veroorsaak dat kinders moontlik nie in hul eie taal onderrig sal kan ontvang nie, want as skole te vol raak omdat hulle parallelmedium-instansies moet word, gaan meer kinders weggewys word.
Meer oor hierdie storie namate nog inligting beskikbaar raak.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
