GalleriesLocal newsNewsNews galleriesSchoolsSchools galleries

Stryd oor onderrrig in skole ‘nie verby’

Terwyl Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, Dinsdag in die hooggeregshof bloedneus gekry het, meen kenners dat Afrikaanse skole nog nie uit sy visier is nie.

Die stryd teen parallelmedium-onderrrig in Afrikaanse skole is nie verby nie, waarsku die burgerregte-organisasie Afriforum.

Kallie Kriel, die uitvoerende beampte,  sê Gauteng se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, sal nie ophou voordat hy sy sin gekry het nie.

“Die oorlog nie verby nie. Dit begin nou eers.”

Die Federasie van Beheerliggame van SA skole (Fedsas) het hom Dinsdag na die Johannesburgse Hooggeregshof gewend om ‘n stokkie te steek voor planne om sekere Afrikaanse skole na parallelmedium-sentrums om te skakel.

Regter Gregory Wrights het ‘n tussentydse bevel toegestaan dat Afrikaanse skole hulle eie taal- en toelatingsbeleid kan toepas wanneer leerlinge vir die volgende skooljaar om plek aansoek doen.

Die provinsie se skole moet teen 17 Junie waglyste aan die provinsiale onderwysdepartment oorhandig van kinders wat ingeskryf het vir volgende jaar. Die department moet die lyste afteken.

In hierdie proses moet die skool se taal- en toelatingsbeleid in ag geneem word, het die die regter beveel.

Gauteng se onderwysdepartment het onlangs planne aangekondig om sowat 124 “onderbenutte” enkelmedium-skole te omskep in instansies wat parallelmedium-onderrrig aanbied.

LUR Panyaza Lesufi het gesê dié plan is daarop gemik om die probleem van oorvol skole op the los.

Lesufi het minstens vier topskole in Centurion in sy visier gehad — die laerskole Hennopspark, Wierdapark, Doringkloof en Bakenkop.

Skoolhoofde in Centurion sê daar is eenvoudig nie ruimte vir parallelmedium-onderrig nie.

“Ons skole is tot oorlopens toe vol. Daar is nie plek om nog klaskamers aan te bou om nog leerlinge te huisves nie,” sê ‘n hoof wat anoniem wil bly.

Laerskool Hennopspark het bykans 1 900 leerlinge en die Laerskool Wierdapark sowat 1 600. Beide laerskole het uit eie sak ekstra klaskamers aangebou.

Volgens die jongste sensus is daar 236 580 inwoners in Centurion. Sowat 49% van hulle is Afrikaanssprekend.

Daar is net vyf departmentele laerskole wat die Afrikaanse gemeenskap voed. Nege Engelse laerskole bedien die Engelsprekende gemeenskap.

Melanie Buys, provinsiale voorsitter van Fedsas, sê baie van die Engelse laerskole is onderbenut. “As ‘n mens die taalstatistieke in ag neem is daar ‘n tekort aan Afrikaanse skole.”

Tumisa Maja, die voorsitter van Laerkool Doringkloof/Doringkloof Primary se beheerliggaam, meen dat daar te min skole in Centurion is om aan almal se behoeftes te voldoen.

Die laerskool het ook die lys gehaal, maar hulle is reeds die afgelope dekade ‘n parallelmedium skool. “Dit werk vir ons,” sê Maja. “Die kinders word in die klasse in hulle moerdtaal (Afrikaans) onderrig en op die speelgrond word hulle aan ander kulture blootsgestel.

Sy sê daar is nie genoeg skole in Centurion om aan almal se behoeftes te voldoen nie. “Daar is meer winkelsentrums as skole.”

Verskeie skoolhoofde met wie Rekord Dinsdag gesels het, meen skole se kultuur en jarelange tradisies sal in die slag bly as hulle na parallelmedium-onderrig sou moes oorskakel.

Kriel glo ook omskakeling sal die kinders nadelig raak.

“Die geskiedenis wys waar ‘n onderwysinstelling na parallelmedium oorgeskakel het, is dit net ‘n kwessie van tyd voor dit Engels word.”

Die laerskole Fleur en Uitsig in Centurion het na parallelmedium oorgeskakel, maar het mettertyd verengels.

“Die uiteinde dat skole net Engels word, sal Afrikaanse kinders van die geleentheid ontneem om in hulle moedertaal te leer,” sê Kriel.

“Verskeie studies, internasionaal en plaaslik, wys dat kinders die beste presteer in hulle moedertaal. Die feit dat Afrikaanse skole jaarliks die top-presteerders met akademie in Gauteng is, onderstreep die stelling.”

Fedsas is na berig word van plan om voort te gaan met sy hoofaansoek teen die departement. Dit sal later op dieselfde regsgronde ingedien word.

Die provinsiale departement van onderwys het hierdie week aangedui dat hy nie die saak nie daar gaan laat nie en hom na ‘n hoër hof sal wend indien nodig.

Lees ook:

Schools could change mediums

Mandarin to be taught at school

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button