Hougaard-tweet laat debat opvlam oor rugbybeserings
’n Twitter-boodskap van die oud Springbok losskakel, Derick Hougaard, het die bedat oor die veiligheid van rugby weer laat opvlam.
‘n Nuwe vlaag negatiewe kommentaar oor rugby en die gesondheidsgevare van die spel het by die publiek ontstaan nadat dit bekend geword het dat Derick Hougaard, gewese Springbok-losskakel van die Bulls, ‘n breinondersoek in ‘n Johannesburgse hospitaal ondergaan het.
Hougaard het blykbaar die afgelope tyd probleme met vergeetagtigheid en buitengewone hoofpyne, waarna hy op advies van ‘n dokter na ‘n spesialis is om toetse te laat doen.
Hougaard het op die sosiale netwerk Twitter, ‘n foto van homself gepubliseer waarin hy in die hospitaal is met verbande om sy kop. Sy opmerking daarby was, “Die prys van professionele rugby”.
Dié foto en die nuus dat Hougaard deur spesialiste ondersoek word vir moontlike gevolge van ‘n breinbesering, het negatiewe kommentaar oor rugby ontlok en die gevare vir spelers in die moderne vorm van die spel.
Hougaard het aan Rekord gesê al die uitslae van sy mediese toetse is nog nie beskikbaar nie, maar daar is wel aanduidings dat hy gevolge oorgehou het van die kere toe hy wel harsingskudding op die veld opgedoen het.
Volgens Hougaard lyk dit egter nie of hy ernstige skade het nie en sy toestand sal met mediese behandeling en ‘n gesonde leefstyl in toom gehou kan word. Sy raad aan jonger spelers is egter om pro-aktief op te tree en hulself gereeld te laat toets of ten minste jaarliks ‘n volledige mediese ondersoek te ondergaan.
Hougaard het aan Rekord gesê hierdie terugslag, asook die hakskeensening-besering wat effektief sy loopbaan beëindig het, maak hom egter nie negatief oor rugby as sodanig nie. “As ek dit alles môre weer moet doen, dan sal ek beslis. Dit gaan oor die liefde vir die spel,” het hy gesê.
“Ek sou wel graag wil sien dat rugby-unies hul spelers as bates beskou en dienooreenkomstig na die spelers se gesondheid kyk. Dis byvoorbeeld nie goed dat ‘n speler kanse waag met sy gesondheid omdat hy geld nodig het nie. Daar moet pro-aktief opgetree word om spelers te help,” was Hougaard se mening.
Volgens aanduidings is die kontak waaraan moderne rugbyspelers blootgestel word erger en meer intensief as dié van spelers wat ‘n paar dekades gelede gespeel het. Moderne professionele spelers voer byvoorbeeld gemiddeld baie meer duikslae uit, terwyl die afbreekpunte in die spel ook gevaarlike kontaksituasies geword het, omdat spelers mekaar wettig deur kontak mag verhinder om die bal by die baldraer af te neem.
Dit is bekend dat die Suid-Afrikaanse rugby-unie (SARU) se Boksmart-program baie spesifiek aandag gee aan die moontlike probleem van kopbeserings en harsingskudding. Die afgelope paar seisoene is daar ook in die professionele ligas ‘n reëling dat spelers wat enige moontlike tekens toon van harsingskudding dadelik die veld moet verlaat vir ‘n voorgeskrewe toets deur mediese personeel. Eers wanneer die personeel tevrede is dat die speler met veiligheid die wedstryd kan voltooi, mag hy weer op die veld gaan.
Volgens amptelike syfers is daar sowat 651 000 geregistreerde rugbyspelers in Suid-Afrika. Hiervan is sowat die helfte (325 400) laerskoolseuns, 204 000 hoërskoolseuns en 121 600 volwassenes.
Statistiek van Boksmart, wat tot aan die einde van die 2014-seisoen opgedateer is, dui aan dat daar die afgelope vyf jaar (sedert die 2010 seisoen) slegs vyf spelers in Suid-Afrika was wat ernstige breinbeserings opgedoen het. Twee van hierdie beseerdes het volkome herstel, een het gevolge van sy besering oorgehou en twee gevalle was fataal.
Hierdie statistiek wys dus dat rugby inderdaad gevaarlik kan wees, maar dat die persentasie spelers wat ernstige breinbeserings opdoen, minimaal is.
Lees ook:
Centurion se Comrades-ster het kanker
Visser, Odendaal in for injured players, Greyling back in starting team
Caroline Wostmann honored by her club on eve of Comrades
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

