Chopper Cop inspireer skoliere tydens kinderbeskermingsweek
Die bekende Chopper Cop het tydens kinderbeskermingsweek die gevare van dwelmgebruik en pornografie met leerlinge bespreek.
Sinoville-polisie se Chopper Cop is heel moontlik een van die ‘coolste’ polisiemanne onder die son, volgens leerlinge van Hoërskool Montana en ses ander hoër- en laerskole. Chopper Cop, ook bekend as Adjudant-offisier Johan van Dyk, het tydens kinderbeskermingsweek skole met sy geel helikopter besoek.
Dié polisieman is nie net ‘cool’ nie, maar het ook leerlinge laat kraai van die lag met sy grappies. Van Dyk het tydens sy aanbieding op dwelmgebruik en pornografie gefokus.
“Jy kan kies om ‘n wenner te wees, en nie ‘n verloorder nie. Dwelms is nie die regte pad nie. As jou vriende jou probeer oortuig om dwelms te gebruik, dan is hulle nie ware vriende nie. Ware vriende sal jou nie in die verderf lei nie,” het Van Dyk die leerlinge gewaarsku.
Hy het leerlinge gewaarsku dat dwelmgebruik dood kan veroorsaak en dat dit nie die moeite werd is nie.
“Selfs pornografie het sy eie stel gevare. Om ‘n video rond te stuur, is jy skuldig aan die onwettige verspreiding van beeldmateriaal. Moet dit eerder nie kyk of versprei nie,” waarsku Van Dyk.
Van Dyk het ook ‘n ‘Chopper posbus’ aan die skool oorhanding waar leerlinge briewe kan pos wat die polisie van enige misdrywe in kennis stel. Die briewe word vertroulik hanteer.
Sinoville-polisie en lede van die Sinoville-krisissentrum, GPF, Christelike maatskaplike raad (CMR) Wonderboom, Rock of Hope (plek van veiligheid) en plaaslike kerke het aan kinderbeskermingsweek deelgeneem.
Kyk video:
Lees ook:
Kinderveiligheid ’n prioriteit
Junior atletiekster van Montana laat die rekords spat
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
