Ou straatname herleef
Die Tshwane-metroraad is Dinsdag deur the Noord-Gautengse Hooggeregshof beveel om weer, soos voorheen, die voormalige straatname saam met die hernoemde straatname te vertoon.
Al Pretoria se ou straatname sal weer saam met die nuwes vertoon moet word.
‘n Bevel deur die Hooggeregshof in Pretoria verplig die metroraad om die ou name voor 1 Augustus saam met die nuwe name aan te bring.
AfriForum sê hy het Dinsdag nóg ’n hofoorwinning in die uitgerekte stryd ter behoud van geskiedkundige straatname in Pretoria behaal.
Ingevolge die bevel, is die metro verplig om weer die ou straatname te vertoon saam met dié wat hulle verander het.
’n Volbank van drie regters van die Hooggeregshof in Pretoria het die Tshwane-metro se appèl teen ’n vroeër hofbevel van die hand gewys.
Die vroeëre bevel het gelas dat die raad die ou straatname saam met die nuwes moet behou, hangende die afhandeling van ‘n hersieningsaksie deur AfriForum.
Die aanvanklike bevel op 19 April 2013 deur regter Bill Prinsloo het bepaal dat die ou name binne 60 dae teruggeplaas moet word. Die name moet dus teen 1 Augustus vanjaar regoor die hoofstad teruggesit word.
Werner Human, AfriForum se regsverteenwoordiger, sê Dinsdag se uitspraak is nie net ’n oorwinning vir AfriForum nie.
“Dit is ook ‘n oorwinning vir almal wat gekant is teen die kulturele vandalisme wat die Tshwane-metroraad gepleeg het deur spesifiek straatname met ’n besondere kultuur-historiese waarde vir Afrikaners en ander minderhede, te teiken in die naamsveranderingsproses.”
Human sê die raad het kwaadwillig opgetree deur destyds binne ‘n week al die ou straatnaambordjies te verwyder, nadat hulle verneem het dat AfriForum ’n bevel wou kry om te verseker dat die ou naamborde behou het.
“Dit is daarom gepas dat die hof ’n bestraffende kostebevel teen die metroraad gegee het. AfriForum glo die metro moet wys dat hy die ou borde met dieselfde spoed kan terugsit as waarmee hy dit verwyder het.”
Lees ook:
Skokrolprent laat mense na sneesdoekies gryp
Solidariteit veg terug op krisisberaad: “Ons is hier om te bly.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
