Wakker polisieman trek glibberige vrou vas
'n Op-en-wakker polisieman van Pretoria-Noord neem 'n vrou in hegtenis wat drie jaar lank soek was weens diefstal, toe hy haar dogter herken.
‘n Op-en-wakker polisieman van Pretoria-Noord het hierdie week ‘n vrou in hegtenis geneem wat die polisie al drie jaar lank ontglip.
Sersant Stoffel Holtzhausen was Donderdagoggend by die Pretoriase Landdroshof toe sy doodluiters by ‘n hofsaal instap om haar man te ondersteun.
‘n Lasbrief vir haar inhegteneming weens diefstal is in 2012 uitgereik.
Holtzhausen sê hy het haar man sowat ‘n jaar gelede weens die besit van vermoedelike gesteelde eiendom in hegtenis geneem. Holtzhausen was ‘n getuie vir die Staat in die man se verhoor.
“Die vrou en haar dogter het in die hof ingestap en ek het die kind se gesig herken.”
Holtzhausen sê die kind was aan hom bekend omdat die Pretoria-Noord-polisie die afgelope drie jaar by haar en haar suster se lewens betrokke is.
“Hulle was in pleegsorg en ons het gehelp toe hulle probleme gehad het,” vertel hy.
Die kinders se deestydse pleegouer het die polisie in kennis gestel dat die ma ‘n uitstaande lasbrief teen haar het. Pogings om haar op te spoor, was vrugteloos.
Toe Holtzhausen die dogter Donderdag by die hof herken, kon hy nie seker wees dat die vrou by haar die kind se ma is nie.
Soos die noodlot dit wou hê, het die vrou met Holtzhausen ‘n gesprek aangeknoop, min wetende dat hy die polisieman is wat op soek is na haar.
Holtzhausen het niks dadelik laat blyk nie en die gesprek gebruik om haar identiteit te bevestig. Intussen het hy via WhatsApp met die polisiestasie gereël om ‘n polisie voertuig na die hof te stuur.
“Die hof het vir teetyd verdaag waarna ek haar genader het en in kennis gestel het dat daar ‘n lasbrief teen haar hangende is. Ek het haar net daar en dan in hegtenis geneem.”
Polisiewoordvoerder Kaptain Rheineth Motlana sê: “Ons polisielede werk hard om misdaad te beveg en Stoffel se oplettenheid is ‘n voorbeeld vir ander.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
