Local news

Kooraand sluit Loslitdag se positiewe momentum af

Fondse wat ingesamel is tydens hul jaarlikse Loslitdag, sorg vir vele van die programme en projekte van die Nasionale Raad vir en van Persone met Gestremdhede. Onlangs is 'n kooraand in Pretoria-oos aangebied om die geldkoffers aan te vul.

Die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede het na ’n suksesvolle Loslitdag (4 September) ’n aand van koormusiek aangebied, met die Noot vir Nood-koorfees wat gehore en kore vir ’n groter doel bymekaargebring het.

Die Noot vir Nood-koorfees het op 10 September in Pretoria plaasgevind as deel van die organisasie se Gigs for Good-inisiatief.

Die organisasie is positief oor die verloop van vanjaar se Loslitdagveldtog.

“Ons is baie positief oor hoe Loslitdag 2026 vanjaar afgeloop het. Dit is eintlik die eerste keer sedert Covid-19 dat ons regtig voel dinge beweeg weer sterk vorentoe.”

Kriel het egter gesê die organisasie is nog nie terug op sy volle kapasiteit soos voor die Covid-19-pandemie nie.

Volgens haar is die herbou van finansiële reserwes ’n belangrike doelwit.

“Ons maak nog nie genoeg reserwes dat ons ietsie kan wegsit om net weer iets op te bou vir maer jare soos wat ons voor die pandemie gehad het nie.”

Die organisasie het vanjaar meer T-hemde as verlede jaar verkoop, terwyl die aanvraag na plakkers ook toegeneem het.

Volgens Kriel het die winkels wat plakkers verkoop en terugvoer gegee het, beter gevaar as die vorige jaar. Nuwe maatskappye, skole en organisasies het ook vanjaar by die veldtog aangesluit.

Die geld wat ingesamel word, word gebruik om programme en projekte uit te brei en meer persone met gestremdhede te ondersteun. Die fondse bevoordeel ook organisasies sonder winsbejag, gemeenskapsorganisasies en skole wat deur Loslitdag ondersteun word.

Kriel het gesê ekstra inkomste kan die organisasie se vermoë om te help op verskeie gebiede verhoog, onder meer ondersteuning met die voorkoming van geslagsgebaseerde geweld en ekonomiese bemagtiging.

Die SingFonix Mans-ensemble se koorleier was Riekie van Aswegen terwyl Gerry van Zyl die koor op die klavier begelei het. Foto: Elize Parker

Die span het op Loslitdag verskeie plekke in Pretoria besoek soos Alma Skool met tromkunstenaar Ghapi, Pretoria Skool vir Serebraal Gestremdes en Transoranje Skool vir Dowes.

Ander besoeke het Eersterust Training and Care Centre, Unisa, die Universiteit van Pretoria, Tshwane Universiteit van Tegnologie en Sefako Makgatho Health Sciences University ingesluit.

Die Noot vir Nood-koorfees het ná hierdie veldtog gevolg en deel uitgemaak van die organisasie se Gigs for Good-inisiatief.

Gertjan Holtzhausen, organiseerder van die kooraand, het gesê die program is daarop gerig om kunstenaars, gehore en gemeenskappe deur die uitvoerende kunste bymekaar te bring om op dié wyse ondersteuning aan persone met gestremdhede te bied.

Die inisiatief sluit musiekkonserte, digkunsaande, verhoogproduksies en ander lewendige optredes in. Die geleenthede word ten bate van persone met gestremdhede aangebied.

Riekie van Aswegen en die SingFonix Mans-ensemble. Foto: Elize Parker

Die kooraand op 10 September by die NG Monumentpark het die raad se fokus op inklusiwiteit ondersteun.

“Of dit nou ’n intieme plaaslike vertoning of ’n grootskaalse produksie is, elke Gigs for Good-geleentheid dra by tot ’n sterker boodskap van menswaardigheid vir persone met gestremdhede,” glo Holtzhausen.

Met die mees onlangse aand het die SingFonix Mans-ensemble, Prinshof Skool, Laerskool Constantiapark, Laerskool Garsfontein en Laerskool Wierdapark gehore in die ooste van Pretoria vermaak.

Jannie du Toit was die gaskunstenaar.

Die ensemble staan onder die leiding van Riekie van Aswegen met begeleier Gerry van Zyl voor die klavier. Hulle het indrukwekkend geharmoniseer op liedjies soos Ramkieriasies en In Paradisum.

Die tjellis, Susan Mouton, het Jannie du Toit en die SingFonix Mans-ensemble begelei. Foto: Elize Parker

Laerskool Constantiapark se junior koor het onder die leiding van dirigent, Hano van der Walt, liedjies gesing soos Olke Bolke van Elizabeth Fourie en Uthando.

Laerskool Garsfontein se senior koor het weer op hul beurt die gehoor gaande gehad met hul aanbieding van Franco Prinsloo se Seënbede.

Dirigent Anton Pottas was dirigent vir beide Laerskool Garsfontein en Laerskool Wierdapark se kore.

Die Prinshofkoor onder leiding van dirigent, George Lombaard, het met liedjies soos Gratitude en Emarabini die gehoor se harte gesteel.
Lombaard het vanjaar die koor oorgeneem nadat die vorige koorleier onverwags oorlede is. Die koor bestaan uit leerders met gesiggestremdhede wat hul liefde vir musiek op hierdie manier uitleef.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button