Jong pa se skedel gebreek in aanval
'n Jong pa se skedel is onlangs op vier plekker gebreek tydens 'n aanval in Centurion.
‘n Jong pa van The Reeds moet volgende week vir ‘n operasie by Steve Biko Akademiese Hospitaal gaan, nadat drie rowers hom aangerand en hom vier skedelfrakture toegedien het.
Volgens Arno Alberts is sy neef, Alexander Bezuidenhout (25), die pa van twee jong kinders, oppad huis toe gewees op sy fiets, toe hy voel iets tref hom teen sy kop.
“Hy sê dit het gevoel asof iemand iets uit ‘n motor teen hom vasgegooi het en hy het gestop om ondersoek in te stel,” het Alberts gesê.
“Dit was toe dat drie mans, vermoedelik buitelanders, hom met ‘n stok begin aanrand het.”
Alberts sê sy die mans het Bezuidenhout na ‘n nabye veld gedra waar hulle hom verder geskop en geslaan het.
“Hy het hulle gevra om asseblief te stop en te vat wat hulle wil, waarna hulle sy foon en sy fiets weggedra het.”
Bezuidenhout het na die aanval terug pad toe beweeg waar ‘n motor gestop en hom huistoe geneem.
Dit was eers ‘n paar dae later, nadat die swelling in sy gesig begin sak het, dat Bezuidenhout agtergekom het sy wangbeen het heeltemal afgebreek en sit los in sy gesig.
“Ons het hom Steve Biko Akademiese Hospitaal toe geneem waar hulle bevestig het sy wangbeen is op drie plekke gebreek en sy oogbank is gekraak,” het Albert’s gesê.
Bezuidenhout sterk tans by die huis aan, voor hy volgende week ‘n operasie moet ondergaan om sy wangbeen te heg.
Polisiewoordvoerder Kaptein Bonginkosi Msimango sê ‘n saak van rooftog word ondersoek.
“Niemand is al inhegtenis geneem in verband met die voorval nie en ons ondersoek duur voort,” het Msimango gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.



