Local news

Melgisedek-regstryd dalk nou op pad na Grondwethof

Terwyl die metro 'n hofbeslissing (gedateer 3 September) beskou as toestemming om met sy veiligheids- en slopingsprogram by die Melgisedek-kompleks voort te gaan, voer Lawyers for Human Rights aan dat die verwydering van inwoners sonder ’n volhoubare alternatief nie die onderliggende probleem van haweloosheid sal oplos nie. Die verwagte aansoek by die Grondwethof kan die volgende fase van die regstryd inlui.

Lawyers for Human Rights het aangedui dat hulle die appèlhof se jongste beslissing in die guns van die metro oor die Melgisedek-eiendom in die Moot verder gaan betwis. Die regstryd oor die toekoms van die eiendom kan nou na die Grondwethof verskuif word.

Louise du Plessis van Lawyers for Human Rights, wat die inwoners van Melgisedek verteenwoordig, het gesê die organisasie is diep teleurgesteld oor die metro se reaksie op die uitspraak en sy voorneme om met die uitsetting en moontlike sloping van geboue op die eiendom voort te gaan.

Du Plessis het gesê dit is uiters teleurstellend dat die metro die beslissing as ’n oorwinning vier.

‘n Tentedorp wat meer as drie maande gelede in Gezina opgerig is op die metro se grond vir tydelike behuising van Melgisedek se inwoners, is nie meer in dieselfde toestand nie. Foto: Verskaf.

“Die sluiting van Melgisedek sal nie haweloosheid oplos nie, maar bloot honderde kwesbare mense elders heen stoot, insluitend na omliggende woonbuurte soos Colbyn,” glo Du Plessis.

Sy het Melgisedek se geboue in Maart besoek en daar ’n funksionerende en georganiseerde gemeenskap aangetref waar mense mekaar ondersteun. Volgens haar behoort die antwoord eerder te wees om met die inwoners se leiers saam te werk om dit te verbeter as om dit eenvoudig te sloop.

Die hofstryd spruit uit die stad se poging om inwoners uit die Melgisedek-eiendom te verwyder op grond van veiligheidskwessies en die toestand van die strukture.

Die Pretoriase Hooggeregshof het op 3 Maart vanjaar ten gunste van die metro se uitsettingsaansoek beslis, maar dit is na die Appèlhof deur Laywyers for Human Rights geneem.

Volgens die metro het daaropvolgende pogings om die uitvoering van dié bevel deur die howe te keer, misluk.

Die jongste appèlhofbeslissing het gefokus op ’n poging om die weiering van verlof tot appèl te betwis.

Die beslissing verander nie die bestaande hofbevel nie en keer ook nie die uitvoering daarvan nie.

Du Plessis het gesê Lawyers for Human Rights staan by die mense wat tans in Melgisedek woon en het ander mense genooi om self die omstandighede op die terrein te gaan besigtig.

Een van die belangrikste geskille is volgens haar waarheen die inwoners verskuif sal word indien die stad met die uitsetting voortgaan.

Volgens Du Plessis beskik die metro reeds oor ’n goeie beleid oor haweloosheid, maar word die toepassing daarvan deur ’n gebrek aan fondse beperk.

Sy het gesê die stad se eie beleidsbeginsels verwys na menswaardigheid, ubuntu, insluiting en volhoubare oplossings.

Du Plessis het bevestig dat Lawyers for Human Rights van plan is om die saak na die Grondwethof te neem. “Ons neem dieselfde aansoek, dat hulle nie geskuif kan word sonder behoorlike alternatiewe verblyf en ’n langtermyn plan nie, na die Grondwethof.”

Flora Monama, burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, het intussen die jongste hofbeslissing as ’n belangrike oorwinning beskryf vir die metro se pogings om onveilige geboue aan te pak.

Rooibaksteengebou op die Melgisedek-eiendom in die Moot, waar inwoners tans ’n uitsettingsbevel en moontlike sloping van die geboue teenstaan. Lawyers for Human Rights, wat die inwoners verteenwoordig, het aangedui dat hulle die saak na die Grondwethof wil neem. Foto: Verskaf.

Volgens Monama verwyder die beslissing nog ’n regsversperring in die stad se pogings om die Melgisedek-eiendom te beveilig, onwettige besetting te beëindig en die sloping van onveilige strukture moontlik te maak.

Monama het gesê die eiendom hou reeds geruime tyd ernstige veiligheidsrisiko’s vir inwoners en die omliggende gemeenskap in. Volgens haar kan gevaarlike geboue nie onbepaald bewoon word terwyl die risiko vir menslike lewe voortduur nie.

Sy het die uitsetting en moontlike sloping verbind met die metro se breër Slegte Geboue-program, wat daarop gemik is om eiendomme wat openbare veiligheid bedreig en tot stedelike verval bydra, aan te pak.

Volgens Monama word veilige en waardige tydelike huisvesting voorberei vir mense wat uit Melgisedek verskuif moet word.

Na die uitsettingsbevel vroeër toegeken is, het daar aansienlike gemeenskapsweerstand teen die verskuiwing van die inwoners na ’n tentedorp in Gezina gekom.

Die metro het aangedui dat hy met die nodige prosesse sal voortgaan om die onveilige strukture te sloop.

Volgens Monama sal die stad terselfdertyd saam met die private sektor ondersoek instel na moontlike toekomstige herontwikkeling van die terrein.

Rooibaksteengeboue op die Melgisedek-eiendom in die Moot, waar honderde inwoners moontlik verskuif kan word na ‘n tentedorp in Gezina indien die metro met die uitsettingsbevel en sloping van onveilige strukture voortgaan. Foto: Verskaf

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button