Jong SA atlete terug ná triomf
SA atlete keer terug van Kolombië ná suksesse in vanjaar se World Youth Championships.
Die vier jong Centurion-atlete wat Suid-Afrika by die IAAF World Youth Championships in Cali, Kolombië verteenwoordig het, het verlede Woensdag teruggekeer en is soos helde by die O.R Tambo-lughawe deur hul vriende en familie ontvang.
Werner Visser, Nicola de Bruyn, Theuns Ehlers en Morné van As is deur skoolvriende, onderwysers en ouers met groot plakkate verwelkom. Die jong atlete kon nie hul vreugde wegsteek nie.
Visser, ‘n gr. 11-leerder aan Hoërskool Zwartkop, is besig om sy naam onder die groot name in die atletiekwêreld te vestig. Hierdie belowende atleet is tans die voorste diskusgooier in Suid-Afrika in die jeugafdeling en was die eerste atleet wat ‘n goue medalje by vanjaar se toernooi verower het.
Hy is met goud beloon toe hy die diskus 64,24m ver gegooi het.
Ander atlete van Hoërskool Eldoraigne het ook uitsonderlike prestasies behaal.
De Bruyn het brons in die meisies 200m behaal en ‘n persoonlike beste van 23.38s gehardloop.
Ehlers het vyfde in die seuns 800m geëindig en het ‘n persoonlike beste van 1:49:32 gehardloop.
Van As het ook deurgedring tot die seuns 400m-hekkies, maar het by die tweede-laaste hekkie gestruikel.
Hierdie groep jong atlete is reeds besig om vir die volgende groot toernooi in Samoa voor te berei. Die Jeug-statebondspele word einde Augustus daar gehou.

Lees ook:
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
