Klipwerf Orkes al ‘n gedenkwaardigheid
Die Klipwerf Orkes vier vanjaar hulle 46ste bestaansjaar. Rekord het op Erfenisdag met die groep by die Voortrekkermonument gesels.
“Ek sal nooit vir die Blou Bulle kan skree nie,” sê die oudste lid van die Klipwerf Orkes, Kobus Visagie.
Sommer net so lukraak bars hy los oor die Blou Bulle.
“Sien, ek is ‘n gesoute Kapenaar en ons skree mos vir ons span,” brei hy terwyl die son op sy kop bak. Gewoond aan die hitte. Gewoond aan die warm aarde.
Dit is Erfenisdag – hier by Pretoria se bekendste nasionale erfenisterrein, die Voortrekkermonument – waar die Klipwerf Orkes die feesgangers met hulle voetstap-boudstap-jeukmusiek gaan vermaak.
Dit is hoe ons musiek in persverklarings beskryf word, want ons is nie ‘n boeremusiekgroep nie,” sê Gené van Niekerk. Haar woorde rol oor die “erre”.
Namakwaland op sy beste…
Dit is die eerste keer dat dié groep, wat vanjaar hulle 46e bestaansjaar vier, by die Voortrekkermonument optree.
Die temperatuur is naby 30 grade celcius, maar sommige van die Afrikaanse feesgangers is geklee in Voortrekkerrokkies, kappies en rolle en rolle materiaal.
“Gits, kry jy nie warm nie,” vra Gené vriendelik vir ‘n vrou in ‘n Voortrekkerrok. “Nee, wat,” giggel sy, ‘n warmbrak in die hand. “Die materiaal hou my koel.”
Rokies draal in die helder lug. Boerewors en beesfilette en die Klipwerf Orkes.
Dis die Erfenisfees gereël deur die ATKV met ‘n antieke mark, boeremusiek en misvloer-stamp.
Daar is Kobus, wat die klawerbord bespeel asof dit sy minnares is. Gené wat ook op die klawerbord tokkel asof dit een van haar geliefde beeste is (jip, sy is ‘n boervrou wat nie skaam is om self te slag en dan te braai nie).
Willie Burger wat die kitaar slaan en Johnny Dreyer, die dromspeler.
Ook die Suid-Afrikaners se nasionale erfenis, want hulle is die groep wat al die langste in die land voortbestaan.
“Ons dink nie daaraan dat die groep oor ‘n paar jaar nie meer gaan bestaan nie,” sê Gené. “Vir nou geniet ons ons musiek.”
Die groep het na jare van droogte, soos hulle daarna verwys, weer ‘n CD uit. Hantam Tydloos, noem hulle dit.
Dit is hulle 29ste CD en die meeste daarvan het goue en platinumstatus bereik.
“Ek dink ons verander ons klank die hele tyd. Daarom kan ons nog relevant bly,” meen Kobus wat maar 16 was toe hy by die groep aangesluit het. “Ons klank is die hele tyd vars en nuut.”
Gené staan eers op en gee haar ondersteuners ‘n warm drukkie. Praat ‘n bietjie. Poseer vir ‘n foto voordat sy weer haar sit kry.
“Ons musiek is nie net vir die Afrikaners nie,” verduidelik sy. “Ons het vroeër vanjaar by ‘n Namafees in die Kalahari opgetree. Mense van alle rassegroepe het so stofstreep gedans.”
Langarm en sokkie-sokkie. As hulle mense se voete kan laat jeuk, is die lede baie plesierige Afrikaners.
Hulle is ook nie konserwatiewe musikante nie en sê hulle kan saam met enige kunstenaar werk.
Hulle gunsteling-sanger?
Jack Parow, koor hulle dit sommer so gelyk.
Jam Sandwich, ‘n musiekprogram op SABC, het hulle sowat twee jaar gelede genooi om aan die program deel te neem. Die doelwit van die program was om verskillende musiekgenres te meng.
En daar staan die spulletjie voor dáárdie vuilbek Parow.
Kyk hier na die video:
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring,” onthou Johnny. “Jack is ongelooflik talentvol. Ons het ‘n wysie gekry en hy het die lirieke geskryf.”
Die resultaat was Dans met my. “Ons het ook die liedjie op ons nuutste CD opgeneem,” sê Kobus.
Die Rolling Stone, een van die mees geloofwaardige musiektydskrifte in die wêreld, het al oor hulle geskryf en hulle het ook optredes in die Sun City Superbowl.
Hulle maak musiek, sê hulle, nie om bekend of ryk te wees nie, maar om mense gelukkig te maak.
Oor vier jaar word die groep 50. “Ek weet nie of ons na ons verjaarsdag nog gaan voortbestaan nie,” sê Kobus, wat al baie van die groep se voormalige lede begrawe het. “Miskien. Miskien net.”
Dit is bykans twaalfuur en die groep moet verhoog toe gaan. Kinders en ouers stroom verhoog toe. Soek ‘n skadu-kolletjie.
Hulle speel tot vieruur en dan gaan hulle die monument besoek en ‘n tjoppie (uit die Karoo) op die kole gooi. Dan gaan hulle weer in hulle bus klim en Suid-Afrika plattoer. Van die een stofdorp na die ander.
Iewers (tussen die boerewors- en potjiekosstalletjies) hoor jy ‘n aankondiger: “Kom kyk hoe word ‘n misvloer gesmeer. Hier is ook kaiings, vars brood en plaasbotter te koop.”
Erfgoed, erfkos en Klipwerf.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
