EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Anneli sing na agt jaar weer

Deur 'n wolk van pyn en 'n gekners van tande het die sangeres Anneli van Rooyen verlede jaar 'n CD opgeneem, haar eerste in agt jaar. Sy het aan Rekord vertel dis net genade is dat sy weer kan sing.

Dié maand is dit agt jaar sedert Anneli van Rooyen vir die laaste keer die mooiste klanke uit haar mond voortgebring het.

Dié sangeres, wat in 2004 met ‘n a-tipiese trigeminale neuralgie (‘n siekte wat erge pyn in haar gesig veroorsaak) gediagnoseer is, het gedink sy sou nooit weer kon sing nie.

Met haar stembande het daar niks geskeel nie, maar om die klanke uit haar mond voort te bring was so pynlik dat sy “stom” geword het.

“My stembande is ongeskonde, maar dit is ontsettend moeilik om deur so ‘n pynlike mond te sing. Die senuweeskade aan my gesig en mond wat ek tydens ‘n prosedure in 2007 opgedoen het, is onomkeerbaar.

“Daar is geen prognose vir herstel nie. Ons het regtig probeer om die uitkoms te bestuur, maar vroeg in 2014 het dit duidelik geword dat ek – behalwe vir ‘n wonderwerk – vir die res van my lewe hiermee moet saamleef.

“ Verlede jaar, die sewende jaar, was dus tog deurslaggewend, want ek moes kies om aan te gaan uit genade. Om te sing is ‘n geloofsprong,” het Anneli per e-pos aan Rekord vertel.

Maar deur die genade, soos sy daarna verwys, het sy verlede jaar weer voor ‘n mikrofoon ingeskuif en al het die opnames teen ‘n stadige pas beweeg is haar CD, Nogtans sal ek sing, gebore en behoort binnekort op die winkelrakke te wees.

Die eerste een in bykans ‘n dekade. “Die titel van die CD sê alles. Dit is hoogs persoonlik, maar geld tog vir ons elkeen. Ons leef midde van ongelooflike uitdagings en soms onhanteerbare skade, trauma of pyn.

“Daar is soveel mense wat worstel onder bitter moeilike omstandighede. Om te kies om te glo, bring Jesus se genade tot binne-in die siel. Al is ons dan beseer, geskaad, swak, magteloos en uitgeput, is daar ‘n ander kragbron wat in plaas van ‘n hopelose einde, ‘n eindelose hoop waarborg. Dáárom nogtans,” sê Anneli.

Anneli het ook Maandag ‘n musiekvideo van een van haar liedjies, Ek Glo, by die Monte de Dios Wedding Venue, in Zwawelpoort geskiet. Sy was die enigste karakter in die video.

Dit was vir haar ‘n moeilik dag op die stel. “My gesondheid is onder druk omdat die pynvlakke veelvoudig is. Ek het met al my krag gefokus om koers te hou en my energie te behou. Ek moes ook probeer om van my seer voete te vergeet.”

Die liedjies op die CD is ‘n groot geheim en Lydia Winchester, Anneli se skakelbeampte, wou niks aan Rekord uitlap nie.

Haar musiekvideo word op 17 Oktober op Jukebox op kykNET bekendgestel

Sy sê die maak van musiekvideo’s verskil nie veel van 12 jaar gelede nie.

“Die toewyding en kreatiwiteit is nog dieselfde. Die span is steeds gedisiplineerd, kundig en meelewend. Die tegnologie verskil egter heelwat. Kameras het kleiner geword. Die opstel, die tydrowende tegniese proses en die oppakkery het steeds dieselfde gebly.”

Is Anneli van Rooyen nog relevant in die musiekbedryf?

“Dit lyk tog so,” meen sy.

Winchester glo Anneli is ‘n legende en sy sê die publiek en die media gons oor dié CD, want na alles “lewe Anneli steeds en sy is gemaak om na liefde te strewe.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button