Drie van ‘bende’ vas na moorde in noorde
Een van drie 'bende'-lede word verbind met 16 ander misdade
Corlia Kruger
Een van die drie mans wat in hegtenis geneem is na drie moorde in die noorde van Pretoria was dalk by ‘n rits ander misdade betrokke.
Volgens ‘n polisieverklaring word Moses Ndlovo (23) verbind met 16 ander oortredings wat inbrake en huisrooftogte insluit.
Ndlovo is verlede maand saam met Johannes Phiri en Danford Gwanzi (albei 23 jaar oud) gevang nadat hulle deur die Pretoria-Noord-polisie voorgekeer is.
Twee inwoners van die omgewing is die vorige dag beroof en doodgeskiet.
‘n Polisie-ondersoek dui daarop dat die mans by die moorde van Mlandu Mnguni en Marius Els betrokke was.
Mnguni, ’n skoolhoof en inwoner van Doornpoort, is doodgeskiet kort voordat Els in Bon Accord ook in sy eie huis vermoor is.
Die drie kan moontlik ook verbind word met die aanval op Eugene Smit naby Roodeplaatdam wat sowat drie weke voor Mnguni en Els se moorde.
Smit is in ‘n rooftog in die maag geskiet en is sowat twee weke later in die hospitaal dood.
Die mans is aanvanklik in hegtenis geneem oor die besit van gesteelde goedere. ’n Vuurwapen en 30 rondes ammunisie is in hul besit gekry.
Die polisie ondersoek bewerings dat dié trio deel is van ’n bende wat inwoners in die Kameeldrift-gebied terroriseer het.
Hulle word verdink van diefstal en roof in hierdie omgewing.
Mnguni, hoof van die Matimba Middle School en beheerliggaamvoorsitter van die Alma-skool vir gestremde kinders, is laataand vermoor tydens ’n gewapende rooftog.
Die polisie volg bykomende inligting op, maar is positief dat hulle reeds ’n sterk saak teen die drie het en dat hulle verbind sal kan word met al die misdade waaroor hulle aangekla is.
Lees ook:
Roodeplaat-slagoffer weer onder die mes
Roodeplaat-slagoffer nog nie buite gevaar
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
