Bonnie en Clyde van Montana
Bonnie en Clyde besteel glo klant in die noorde van Pretoria.
Corlia Kruger
Na ’n 51-jarige vrou verlede maand op kamera betrap is toe sy geld uit ’n motor gesteel het, is haar eggenoot ook onlangs in hegtenis geneem.
Die sogenoemde Bonnie en Clyde is weke gelede op veiligheidskamera by ’n dobbelplek gevang kort nadat R200 000 uit een van hul klante se motor verdwyn het.
‘Bonnie’ is eerste aangekla van diefstal nadat beeldmateriaal gewys het hoe sy die kontant in ’n kartondoos kalm uit ’n motor haal en oorplaas na haar voertuig.
Dié sakevrou het een van haar klante geteiken aan wie sy en haar man glo sonkragprodukte verskaf het.
Die anonieme klant het vroeër Rekord oor die voorval ingelig en gesê dat dit nie die eerste keer is dat die sakevrou iemand besteel nie.
Die ouer paartjie het sake in die noorde van Pretoria gedoen waar die klant hul leer ken het.
Die klant sê op Donderdagaand 3 September het sy en ’n vriendin Bonnie en Clyde by ’n dobbelplek in die noorde raakgeloop.
Die groepie van vier is saam in by die casino om hul geluk by die slotmasjiene te beproef.
Die klaer vertel sy het die R200 000 kontant wat sy sou belê reeds die aand in haar motor gehad en sê die enigste mense wat geweet het van die geld was haar vriendin en die skynbaar ‘eerlike’ egpaar.
“Ek het dit goed versteek in die boks onder ’n baadjie in die kar,” het sy gesê.
Sy vertel na die tyd dat die sakeman te ‘nuuskierig’ was oor waar sy die geld heen vat en watter roetes sy ry.
Sy het niks vermoed nie en was steeds stomgeslaan toe sy ure later uit die dobbelplek kom en vind dat die geld in haar motor spoorloos verdwyn het.
Danksy beeldmateriaal van veiligheidskameras om die gebou kon die klaer antwoorde kry oor die geld wat weggeraak het.
Die beeldmateriaal wys hoe die sakevrou omstreeks 21:43 buite die gebou in die parkeerterrein haar klant se motor nader, die deur oopmaak, die geld vinnig verwyder en in haar eie voertuig laai.
“Sy het skelmpies my kar se sleutel gevat sonder dat ek dit agtergekom het,” het die klaer vertel.
Later het Bonnie vir Clyde gaan haal. Beeldmateriaal wys hoe die paartjie ’n paar minute na die diefstal saam by die dobbelplek uitstap.
“Ons het onlangs beeldmatriaal van veiligheidskameras uit ’n ander hoek gesien,” sê die klaer.
“Daarop kan mens duidelik sien hoe wys sy vir hom die boks vol geld wat sy in hul kar gesit het. Dan lag die twee lekker saam oor dié maklike buit.”
Bonnie is na die voorval deur polisie voorgekeer en by ’n dobbelplek in eMalahleni (Witbank) in hegtenis geneem.
Van die R200 000 wat sy gesteel het is R118 000 teruggekry toe sy glo vir polisie gewys het waar sy die geld versteek het.
Ondersoek is ingestel om haar man as medepligtige aan die saak te verbind. Die polisie het hom op grond van die beeldmateriaal in hegtenis geneem.
Die sakeman is Woensdag borg toegestaan en sal op 20 November saam met sy vrou in die Streekhof verskyn.
“As dit nie vir die beeldmateriaal was nie, sou niemand ooit dié twee kon verdink het van so ’n groot diefstal nie,” sê die klaer.
Die klaer beweer die paartjie het by ’n vorige geleentheid ook geld by haar huis in Krugersdorp gesteel.
“Na sy (die sakevrou) gevang is, het nog vier van hul klante na vore gekom om te sê dat hul moontlik ook slagoffers van die sakespaar is.”
Die egpaar het glo hul eie onderneming bedryf en sonkragprodukte aan kliënte verskaf.
Ondersoek word ingestel na die paar met nog sake van diefstal waarmee hul vermoedelik verbind kan word.
Lees ook:
Besigheidsvrou steel glo duisende
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
