CrimeLocal newsNews

Slang in kollig by Anika Smit-ondersoek

Die geregtelike ondersoek na die moord van Anika Smit duur voort.

‘n Skalpel om slange af te slag was Woensdag sterk in die kollig by die geregtelike ondersoek na die dood van Anika Smit.

“Ek moes eers die slange kook om die vleis sag te kry. Daarna het ek die skalpel gebruik om die vleis van die skelet af te sny,” het Damien Treeby getuig.

Hy het verduidelik dat hy slangskelette in kunswerke gebruik het.

Die ondersoek in die landdroshof in Pretoria-Noord het Maandag hervat. Dit het ten doel om die oorsaak van Smit se dood te bepaal.

Sy is in Maart 2010 vermoor in haar ouerhuis in Theresapark in die noorde van Pretoria gekry. Beide haar hande was afgekap en is nooit gekry nie.

Die polisie het haar destydse vriend Nico Venter vlugtig in verband met die moord aangehou, maar hy is weer vrygelaat.

Niemand anders is sedertdien van Smit se moord aangekla nie en die geregtelike ondersoek wil ook vasstel of enigiemand vir haar dood verantwoordelik gehou kan word.

Die 24-jarige Treeby, wat saam met Smit op skool was, het tot dusver ‘n sleutelgetuie geblyk te wees in die ondersoek.

Twee advokate, Anton van Staden, wat Venter verteenwoordig, en Willem Koekemoer, wat vir Smit se pa Johan optree, het Treeby Woensdag ondervra.

Hulle het aangevoer dat daar teenstrydighede was in sy getuienis oor krapmerke aan sy nek en arm kort na Smit se dood.

Treeby het vroeër getuig dat hy die krapmerke opgedoen het die Saterdag nadat Anika se lyk gevind is.

Hy het Woensdag herhaal dat sy suster hom in ‘n woedebui gekrap het toe hy haar optel het om na haar kamer te dra.

“Ek het haar na haar kamer gedra en die deur toegemaak,” het Treeby gesê.

Koekemoer het aangevoer dat Treeby se antwoord teenstrydig was met die getuienis van sy ma en suster.

Treeby se suster het vroeër gesê dat sy haarself losgeruk het nadat sy haar broer gekrap het. Sy het daarop uit die huis uit gehardloop, het sy getuig.

Dit strook nie met Treeby se weergawe dat hy haar slaapkamerdeur agter haar toegemaak het nie, het Koekemoer gesê.

Van Staden het bedenkinge gelug oor Treeby se antwoorde oor die krapmerke.

Van Staden: “Jou ma het dan in die hof oor jou gelieg.”

Treeby: “Dis maar wat ma’s doen wanneer hulle hul kinders probeer beskerm.”

Koekemoer het Treeby ook weer ondervra oor die verhouding tussen hom en Smit.

Hy het volgehou dat hy haar nie goed geken het nie, hoewel sy ’n paar keer sigarette by hom en sy vriende geleen het.

Sy was ook paar keer by sy huis saam met Venter.

Koekemoer: “Jy het haar nie goed geken nie, maar tog het jy haar toegelaat om in jou huis te kom?”

Treeby: “Dit sou ongeskik wees om haar nie in te laat nie en buite te laat wag.”

Koekemoer het ook foto’s in die hof gebruik om nog “teenstrydighede” uit te wys.

Treeby het voorheen genoem dat hy nie van hemde of klere hou met embleme nie, maar in sommige van die foto’s is hy in swart geklee met kentekens op sy t-hemde.

“Dit wat in my kas is trek ek aan,” het Treeby geantwoord en gesê dat sy ma sy klere vir hom gekoop het.

Koekemoer het dit ook vreemd gevind dat Treeby sy krapmerke met ’n kraaghemp probeer wegsteek het.

Treeby het verduidelik dat dit nie die eerste keer was dat hy en sy sussie baklei het nie. Dit was ook nie die eerste keer dat sy hom gekrap het nie.

Volgens hom het hy altyd sy krapmerke probeer wegsteek.

Treeby se betrokkenheid by ’n groep sataniste het Woensdag ook weer ter sprake gekom.

Koekemoer wou veral meer weet van Treeby se stokpertjie om slangskelette in ’n kunswerk aan mekaar te sit.

Dié fyn delikate proses verg ure se werk, het Treeby verduidelik.

Die slang moet eers gekook word en die vleis word dan met ‘n skalpel verwyder van die fyn bene van die skelet.

Koekemoer het nog vrae gehad oor die skalpel in Treeby se besit.

Aanklaer Tanya Carstens het Treeby uitgevra oor sy verhouding met sy meisie, nou sy verloofde.

Hy het bevestig dat dit ‘n innige verhouding is.

“Jy het gesê dat jy so lief vir haar is dat jy vir haar sou moor?” het Carstens gevra.

Treeby het bevestigend geantwoord, maar gesê dat hy later jare, “in matriek” meer “sense” gehad het.

Koekemoer het aan Treeby genoem dat ’n ooggetuie iemand met blonde hare met ’n kinkel in opgemerk naby Anika se huis die dag van haar moord.

Volgens foto’s van Treeby en sy meisie het sy in daardie stadium blonde hare gehad.

Die foto wys ook ’n effense kinkel in haar hare, het Koekemoer gesê.

Treeby het getuig dat sy meisie nooit tydens skooltyd sou wegglip sonder hom of sonder dat sy hom sou sê nie.

Treeby was weer vergesel van sy regsverteenwoordiger, Sunethe Potgieter.

Die voorsittende beampte is landdros Pierre Wessels.

Lees ook:

Facebook page for Anika Smit closed

Anika Smit inquest postponed to next month

Court told of satanism, blood-drinking and bullying 

Woman queried in Anika inquest

Mxit messages emerge at Anika Smit’s inquest

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 072 435 7717.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.

  • We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button