Wenner stel nuwe snit vry na moeilike seisoen
Elmé Churr se nuwe enkelsnit, Vrou van Geloof, is volgens die sangeres gebore uit haar eie geloofsreis en die stories van vroue wat deur moeilike seisoene gaan.
SA Afri-Indie-wenner en ma van drie, die sjarmante en energieke Elmé Churr, se jongste vrystelling, Vrou van Geloof, is veel meer as net ’n nuwe vrystelling.
Vir die sangeres van die Moot is dit ’n persoonlike geloofsverklaring wat ontstaan het uit haar eie lewensreis én uit die stories van vroue wat sy daagliks ontmoet.
“Die inspirasie vir Vrou van Geloof het gekom uit die ongelooflike vroue wat ek elke dag ontmoet en dis dikwels vroue wat swaar dra, deur storms gaan, harte breek en teleurstellings beleef, maar steeds aan God vashou,” sê Churr.
Die lied fokus op vroue wat dikwels baie dra sonder dat ander noodwendig hul stryd raaksien. Churr sê sy wou ’n boodskap skep wat vroue herinner dat hul waarde nie deur hul omstandighede bepaal word nie.
“Ek wou ’n lied skryf wat elke vrou herinner haar waarde kom deur die God wat haar geskep en geroep het.”
Die lied is nie deur een spesifieke gebeurtenis geïnspireer nie, maar eerder deur ’n moeilike seisoen in Churr se lewe.
“Ek dink ons almal beleef sulke seisoene. Sulke tye waarin alles stil voel, waar jy wonder of God jou nog hoor, of jy op die regte pad is.”
Sy het van jongs af ’n liefde vir musiek gehad en het op skool aan revues deelgeneem. In 2007 het sy ’n diploma in Musiekteater aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie behaal. Daarna het sy vir sewe jaar landwyd met die Barnyard Theatre-teatergroep opgetree. Sy is bekend vir liedjies soos Kos vir my siel en Stukkende Vlerk en het ook al in ’n rol in ’n sepie vertolk.
Die nuwe lied weerspieël ook verskillende rolle wat Churr self in haar lewe vervul. Sy sê haar ervaring as ma van Luke (6), Aila (4) en Lienka (1), eggenoot van Ben, kunstenaar en kind van God, het haar geleer dat geloof nie oor volmaaktheid gaan nie.
Haar hoop is dat luisteraars nie bloot die melodie sal onthou nie, maar die boodskap daaragter sal saamneem.
Die reaksie op die vrystelling het Churr diep geraak. Sy het boodskappe ontvang van vroue wat die lied tydens verskillende moeilike en betekenisvolle seisoene in hul lewens gehoor het.
“Wat my die meeste tref, is wanneer iemand sê: ‘Dit voel asof hierdie lied my storie vertel’.”
Volgens Churr is dit een van die mooiste komplimente wat ’n liedjieskrywer kan ontvang, omdat die musiek dan nie meer net oor die kunstenaar gaan nie.
Churr se musiekloopbaan het reeds erkenning op die onafhanklike musiektoneel ontvang. Sy verkies om in die onafhanklike kunstenaarsbedryf haar merk te maak en tree gereeld op as deel van ’n span kunstenaars van die Rug-teen-Rug onafhanklike musiekborgskap van Pretoria-entrepreneur en -sakeman, Louis McLaren.
By die SA Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings in 2025 het sy saam met Leon Gropp die toekenning vir Beste Duo Optrede gewen vir hul vertoning van Wees Lief Vir My.
Sy is ook by die 2026 Afri-Indie Musiektoekennings vereer. Dié voortgesette erkenning vorm deel van ’n reis waarin Churr haar onafhanklike musiek en optredes verder uitbou.
Churr is reeds besig om na die volgende hoofstuk te kyk.
Haar reis as kunstenaar word verder gekenmerk deur nuwe geleenthede, waaronder haar betrokkenheid by Ontbytsake se Onderneming van die Jaar op 10 September.
Sy sê dit is vir haar ’n voorreg om ’n verhoog te deel met kunstenaars soos Loren Allred, Elvis Blue, Elandré en Tarryn Lamb.
Vir nou bly die kern van haar boodskap eenvoudig: “Ons hoef nie die hele pad te ken nie; ons hoef net getrou te bly aan die Een wat die pad reeds voorberei het.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
