CrimeLocal newsNews

Man aangerand deur studente

’n 52-jarige man is wreedaardig aangeval deur drie jong mans langs die pad.

Corlia Kruger

’n 52-jarige man is in die ooste van Pretoria aangerand en byna bewusteloos geslaan, vermoedelik deur drie studente.

In ’n beweerde padwoede voorval, vertel Dries Laas, hoe drie jong mans hom in sy voertuig van die pad afgedruk het en hom wreedaardig aangerand het.

Laas sê hy en sy vrou was Dinsdagaand op pad terug na hul huis in die ooste toe die voorval op die hoek van Lois- en Solomon Mahlangurylaan plaasgevind het.

“’n Bestuurder in ’n silwer Mercedes het links verby my in die noodbaan gesteek,” verduidelik Laas.

“Dit is onwettig om op die geellyn te ry om verby ander motors te sny, en ek het toe my hoofligte vir hom geflits.”

Laas verduidelik hy was skaars verby die verkeerslig op die hoek, toe die Mercedes voor hom inry en dood stop.

“Ek kon gelukkig toe uitswaai in die regterbaan in.”

Laas sê na hy weer terug in die linkerbaan beweeg het, die Mercedes versnel het en die linkerkant van sy bakkie raakgestamp.

Laas het van die pad afgetrek saam met die Mercedes.

“Twee jong mans het uit die motor gespring en ons het toe woorde gewissel,” sê Laas.

“Hulle het my gedreig en een het gesê hy gaan sy prokureur en die polisie bel. Ek het eintlik gehoop hulle sal die polisie bel dat hulle dan die situasie kon kom beheer het.”

Dries sê die een man het wel ’n oproep gemaak, maar beslis nie die polisie gekontak nie.

“Ek hoor net hoe sê hy: ‘Hy is nog hier! Kom vinnig!’. Toe besef ek daar kom moeilikheid.”

Laas sê hy het terug in sy motor geklim, vir sy vrou gesê dat hulle polisie toe moet gaan en weggery.

“Ons het besluit om reguit Boschkop-polisiestasie toe te ry wat in ons gebied is,” sê Laas.

Hy het gesien hoe die Mercedes hulle volg.

Skielik het nog ’n voertuig, met sy hoofligte aan, by die Mercedes agter hulle aangesluit.

“Dié Ford bakkie het toe so teen aan my bakkie gery, jy sou nie ’n papier tussen ons voertuie in kry nie.”

Laas vertel hoe die bestuurder toe die ‘knipmes maneuver’ probeer het om hom beheer te laat verloor.

“Gelukkig is ek ’n ou bestuurder en het darem nie heeltemal beheer verloor nie, anders was ons dalk in ’n groot ongeluk” sê Laas.

Hy het weer langs die pad gestop. Dié keer het die bestuurders van die Ford en Mercedes hom vasgekeer.

“Die bestuurder van die Mercedes het my daarvan beskuldig dat ek probeer wegry het van ’n ongelukstoneel.”

Laas beskryf die twee jong mans en hul derde vriend wat in die Ford gery het as baie agressief.

Na Laas die registrasienommers geneem het as versekering bewyse het een van die mans ’n vuishou na sy kop gemik.

“Ek het net geskree: ‘Whoa! Whoa! Ek praat net met julle, ek wil nie baklei nie.”

Die volgende wat Laas onthou is toe al drie mans hom skielik oorweldig en ses vuiste op hom neerreën waar hy op die grond lê.

“Hulle het my geslaan en toe begin skop.”

Laas sê die laaste woorde wat hy onthou was toe een van die mans vir die ander sê: “Maak net seker hy sluk nie sy tong in nie.”

“Dit is toe dat ek weet hulle rand my met opset aan. Dit was nie die eerste keer wat hulle so baklei het nie.”

Die res van die gebeure het Laas se vrou later herhaal na hy by sy huis bygekom het.

Van die bietjie inligting wat hulle by die mans kon kry voor die aanval kon die egpaar aflei dat hulle studente van Stellenbosch is.

Laas se vrou het hom probeer help toe hulle hom aanrand maar is net weggestamp.

“Gelukkig het daar toe iemand verby gery en gestop,” vertel Laas.

Die onbekende man het gestop en uit sy kar geklim.

“Hulle (aanvallers) het hom toe aangevat en gevra ‘wat soek hy’ en dat dit ‘niks met hom te doen het nie’.”

Laas sê dit is danksy dié vreemdeling se aankoms dat hy kon wegkom.

“Ek weet steeds nie hoe ek self opgestaan het om in die bakkie te klim nie,” sê hy.

“Maar dit is danksy daardie een mens wat gestop het, wat verhoed het dat hulle my doodskop. Dit kon baie erger gewees het.”

Laas het na die voorval mediese hulp gekry en ook die saak by die Boschkop-polisiestasie aangemeld.

“Gelukkig het ek toe die foto’s van hul registrasienommers en die polisie kon hul inligting kry.”

Laas sê hy verwag dat die polisie binnekort sy aanvallers sal aankeer.

Hy sê hy is gelukkig om geen blywende skade oor te hou nie. “Dit is wel vernederend dat my kliënte met wie ek besigheid doen my so moet sien met dié geswelde gesig.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button