Studente gesoek na man aangerand is
Die drie jong mans wat verantwoordelik is vir die aanval op ’n 52-jarige man is nog nie vasgekeer nie.
Die 52-jarige Dries Laas herstel nog na die wrede aanval in die ooste van Pretoria.
Laas is Dinsdagaand in ’n beweerde padwoede voorval deur drie jong mans, vermoedelik studente van Stellenbosch, aangerand.
“Dit gaan elke dag ’n bietjie beter met hom,” het Laas se suster, Karin van den Berg, Saterdagoggend aan Rekord gesê.
Haar tweeling-broer gebruik nog sterk pynmedikasie, maar sy sê dat die swelling in sy gesig is nou effens beter.
“Sy gesig is al die kleure van die reënboog en hy kan nog nie vaste kos eet nie.”
Laas het Vrydag met Rekord gepraat en vertel van die aanval.
Hy en sy vrou was oppad huis toe die aand toe hulle met die bestuurder en passasier van ’n silwer Mercedes te doen gekry het op die hoek van Lois- en Solomon Mahlangurylaan.
Kort na ’n ongeluk waarin die Mercedes met Laas se bakkie gebots het, het ’n derde jong man betrokke geraak.
Laas is so te sê letterlik van die pad afgedruk deur ’n Ford bakkie, waarna al drie mans hom aangerand het.
Danksy die tydige aankoms van ’n ander onbekende bestuurder wat die gebeure gesien het en langs die pad gestop het, kon Laas weg kom saam met sy vrou.
’n Saak van aanranding is by die Boschkop-polisiestasie aangemeld en die registrasie nommers van die twee verdagte voertuie is ook aangegee.
Polisie ondersoek die saak.

Lees ook:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Rekord Oos
Rekord Noord
Rekord Centurion
Rekord Moot
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
