Help haweloses en hongeres sonder om kontant te gee
Vind meer uit oor die innoverende veldtog wat daarop gemik is om 'n alternatiewe manier te bied om hawelose en honger mense te help.
’n Revolusionêre nuwe veldtog beoog om die landskap van liefdadigheid regoor Pretoria op sy kop te draai.
Dié veldtog, ’n gesamentlike inisiatief van Moeggesukkel en Solidariteit Helpende Hand se Centurion-tak, vorm deel van die #geeReg-veldtog, wat mense wil kry om geld aan betroubare instellings te skenk eerder as vir bedelaars op straat.
Die veldtog is ’n koopbewysstelsel wat sal help om kontant van die strate af te hou.
Jacques Papenfus, stigter van Moeggesukkel, sê die eerste stap was om dit makliker te maak vir mense om koopbewyse te gee eerder as kontant.
“Dit kos R150 vir ’n boek met 10 koopbewyse in,” sê Papenfus.
“Die koopbewyse kan dan uitgeskeur en aan honger mense op straat gegee word. Hulle kan die koopbewys gebruik by ons sleepwa wat regoor Centurion rondry.”
Dié sleepwa is onlangs aan Moegesukkel geskenk nadat dit by hul motorwerkwinkel ingegee is om herstel en oorgeverf word.
“Kort nadat ons klaar was met die werk, het ons ’n dubbele betaling vir die werk gekry en ’n oproep om te sê dat die sleepwa aan ons geskenk word. Ons is so dankbaar daarvoor.”
Die bloedrooi sleepwa word al maklik herken en is reeds in gebruik.
Daar is vier punte waar die sleepwa elke dag stop:
Punt A, by die NG Kerk Wierdapark, van 08:00 tot 09:00.
Punt B, by die kerksondermure in Zwartkop, van 09:10 tot 10:10.
Punt C, by die Gereformeerde Kerk Centurion, van 10:20 tot 11:20.
Punt D, by die Hervormde Kerk Rooihuiskraal, van 11:30 tot 12:30.
Papenfus sê die kos wat uitgedeel word is van die hoogste gehalte.
“Ons wou nie net ’n stuk brood vir mense uitdeel nie, dus is die kos voedsaam.”
Woensdag se kospakkie was ’n koppie sop, ’n broodjie en ’n bak vrugte.
Van koerantverkopers tot huishulpe het selfs al ’n draai gemaak en kom kos haal.
“Die koopbewyse is krities om die projek aan die gang te hou, maar ons sal nooit iemand wegwys wat nie een het nie,” sê Papenfus.
Anton Smith, voorsitter van die Helpende Hand Centurion-tak sê die koopbewysstelsel beoog ook om dwelmgebruik te verminder.
“Meeste mense wil graag help, maar wanneer jy vir iemand op straat geld gee, help jy hulle die meeste van die tyd eintlik net om dwelms te koop,” sê Smith.
Toe die #geeReg-veldtog in Augustus 2015 bekendgestel was, het dit duidelik geword dat tot 90% van dwelmverslaafdes geld gekry het om dwelms te koop deur op straat te staan en bedel.
Die koopbewyse is by verskeie winkels regoor Centurion te koop, asook op die Helpende Hand-webblad en by Moeggesukkel self.
Smith sê hy en Papenfus sê die geld wat deur die koopbewysveldtog gemaak, gaan help om toekomstige projekte te finansier, asook om vir die verblyfkoste van inwoners van Moeggesukkel te help betaal.
Vir meer inligting of hoe om betrokke te raak, skakel Moegesukkel by 073-329-5174.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
