Man gearresteer na hy boef betrap en vang
’n Man is gearresteer nadat hy 'n dief op heterdaad betrap, gevang en aan die polisie oorhandig het.
’n Man is oornag in ’n polisiesel in die noorde aangehou nadat hy glo ’n booswig getakel het oor gesteelde items in sy besit.
Mark Yaffe is Woensdagmiddag sonder rede toegesluit, vertel sy ma Ann Labuschagne.
“Ons wag nog steeds dat hy vrygelaat word.”
Yaffe het Woensdag op sosiale media vertel dat hy en ‘n buurman ’n dief agterna gesit het wat items uit sy erf gesteel het.
Yaffe het die vlugteling in Abercombiestraat platgeduik om hom tot stilstand te bring.
Sy ma sê: “Die dief het nog die ‘speakers’ (luidsprekers) wat hy gesteel het by hom gehad en Mark het hom na die polisiekantoor gevat.”
Labuschagne en ander familielede was Donderdagoggend by Pretoria-Noord se landdroshof om te sien wat met Mark gebeur.
“Ons sit by die hof al vanaf 07:00 en Mark se klein kindertjies is al huilerig en moeg gewag,” sê Labuschagne.
Sy sê haar seun is die vorige dag in hegtenis geneem nadat die verdagte dief hom aangekla het van aanranding.
Sy sê Yaffe is in dieselfde polisiesel as die klaer toegesluit.
“Ons weet Mark het hom nie aangerand nie. Hy het slegs hom tot stilstand gebring na die dief probeer weghardloop het,”sê Labuschagne ontstoke.
“Ons gaan beslis hierdie saak verder vat teen die staat.”
Labuschagne bedank mense wat ingespring het om selfs van die kostes vir ’n prokureur te help dra.
’n Woordvoerder vir Pretoria-Noord se polisiekantoor was nie onmiddelik beskikbaar vir kommentaar nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
