CrimeLocal newsNewsUpdate

OPVOLG: Man vry na nag in polisiesel

Mark Yaffe sê die polisie het hom onvoorwaardelik laat gaan na hy saam met die verdagte dief in ’n polisiesel toegesluit is.

‘n Man van Pretoria-Noord is Donderdag vrygelaat nadat hy ‘n nag in ‘n polisiesel deurgebring het saam iemand wat hom glo besteel het.

Mark Yaffe sê die polisie het hom onvoorwaardelik laat gaan.

Hy is Woensdagmiddag omstreeks 12:00 by die Pretoria-Noord-polisiekantoor in hegtenis geneem toe hy ‘n klag van diefstal wou lê teen ‘n vermeende dief wat hy naby sy huis gevang het.

Die verdagte het op sy beurt ’n klag van aanranding teen Yaffe gelê en die pa van twee is saam met die beweerde dief in ’n polisiesel toegesluit.

Yaffe sê hy het Woensdagoggend by sy huis ‘n vreemdeling opgemerk wat oor sy grensmuur gevlug het met gesteelde items, wat later geblyk het luidsprekers te wees.

“Iemand het die vorige aand my gereedskap gesteel en ek was op die uitkyk vir boosdoeners. So, ongelukkig vir hierdie kêrel, was ek reg  om iemand te vang.”

Yaffe sê hy het die indringer gekonfronteer, maar die man het voet in die wind geslaan.

Hy het die man agterna gesit. ‘n Verbyganger in ‘n bakkie het besluit  om te help en het hom opgelaai. Hulle het die vlugteling gou ingehaal.

“Toe hy naby genoeg was, het ek uit die bakkie uitgespring om die man te takel.”

Yaffe sê ’n paar ooggetuies op die toneel het hom gaan wys waar die man die gesteelde luidsprekers in ‘n bos gegooi het.

Yaffe het toe die verdagte dief na die Pretoria-Noord-polisiekantoor gebring.

“Toe ons daar kom, het van die beamptes by die stasie met hom (verdagte) in hulle taal gepraat,” vertel hy.

“Toe ek die klag van diefstal wou lê, het een van die polisiebeamptes gesê ek moet dit eerder los anders gaan die man ’n saak van aanranding teen my maak.”

Yaffe het hom nie laat afskrik nie en voortgegaan om sy klag te lê. Hy is kort daarna saam met die verdagte in een van die selle toegesluit.

“Ek het nog met die man gepraat en gevra waar ek hom sou geslaan het. Hy het geantwoord dat die polisie hom aangeraai het om ’n teenklag te bring.”

Yaffe sê hy gaan die saak nie daar laat nie.

Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Nkoadi Matthews sê dit staan Yaffe vry om ‘n klag teen die polisie te maak indien hy voel dat hy onregverdig behandel is.

“Die saak word dan verwys na die nasionale hoofkantoor vir verdere ondersoek.”

Lees ook:

Man gearresteer na hy boef betrap en vang

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button