Kommer oor veiligheid na man homself aan tiener ontbloot
Inwoners bekommered oor die veiligheid van hulle kinders naby WiFi-punte in Pretoria.
Corlia Kruger
Daar is kommer oor kinders se veiligheid wanneer hulle gratis WiFi-punte in die stad gebruik.
Ouers en inwoners in die noorde van Pretoria is bang kinders kan deur pedofiele geteiken en aan ander gevare blootgestel word.
Dinsdagmiddag het die voog van ’n 17-jarige hoërskoolleerling vertel hoe ’n man homself aan die tienermeisie ontbloot het. Die voorval het in Dr. Daan De Wet Nelrylaan naby ’n gratis WiFi-punt plaasgevind.
Die onbekende man het glo reg langs die meisie met sy voertuig stilgehou, waar sy na skool gewag het en homself aan haar ontbloot.
“Die man het in Engels gesê: ‘Look here’, waarna hy in sy motor homself aan haar ontbloot het,” het die tienermeisie se voog vroeër aan Rekord vertel.
Sy sê die meisie het na die voorval ’n foto van die man se motor met haar selfoon probeer neem, maar het in haar skok die foon laat val.
“Sy was erg in skok en ek moes haar na ’n dokter neem sodat hulle vir haar iets kon gee om te kalmeer,” het die voog vertel.
Nog ’n bekommerde ouer in Pretoria-Noord sê dit was nie die eerste voorval waar ’n kind naby ’n WiFi-punt deur ’n moontlike gevaarlike persoon geteister word nie.
“Verlede jaar het ’n meisie byna dieselfde punt ’n geval aangemeld toe ’n man, ook naby die WiFi-punt, ’n gesprek met haar probeer aanknoop het voor hy homself aan haar opgedring het,” vertel die anonieme ouer.
“Sy kon gelukkig vinnig van die man wegkom wat vir haar gesê het dat hy ‘iets vir haar wil wys’.”
Die meer onlangse voorval het sowat 300 meter van Hoërskool Gerrit Maritz af plaasgevind en die tienermeisie se voog het gehoop dat die skool meer insae of beeldmateriaal van die gebeure sou hê.
Skoolhoof Martin Botha sê die skool het veiligheidskameras en ook ’n veiligheidsswag by die skool om leerlinge se veiligheid te verseker.
“Ons waarsku en kondig gereeld af dat leerlinge na skool binne die skoolterrein of binne 50 meter van die skoolhek af vir hul ouers of voogde moet wag,” sê Botha.
“Ons kinders se veiligheid is vir ons van kardinale belang en daarom vra ons ook gereeld dat leerlinge, veral meisies, na skool nie alleen huis toe moet loop nie.”
Tshwane-metro se gratis WiFi-punte in Pretoria bly ’n aantrekingskrag vir veral tieners en elektroniese toestel-gebruikers wat die gratis data benut.
Metro-woordvoerder Blessing Manale sê dat daar by verskeie WiFi-punte veiligheidskameras opgerig is.
“In hierdie of in enige voorval waar mense voel hulle word geviktimiseer, moet hulle ’n klag by hul naaste polisiekantoor lê. Die metro sal die polisie in hul ondersoek kan help om, indien moontlik, aan hulle die beeldmateriaal te verskaf.”
Lees ook:
Man ontbloot homself aan tienermeisie
Man ontbloot homself aan tiener-meisie, nadat hy haar beroof het
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
