CrimeLocal newsNews

Ma se skokdood ‘n ‘ongeluk’

Ilana, met kaal voete op die nat gras van die vorige aand se reën, se gil het die werknemers op die perseel tot stilstand gebring.

Die dood van ‘n jong ma verlede Woensdag in Pretoria-Noord was ’n fratsongeluk, glo haar familie.

Hulle sê niemand kon weet of voorkom het dat Ilana van Rensburg (33) daardie dag aan die koord sou raak wat haar haar lewe gekos het nie.

Die ma van ’n tweejarige seuntjie en ses weke-oue dogtertjie is skielik weggeruk van haar gesin.

Ilana is buite in haar erf in Pretoria-Noord doodgeskok terwyl sy ’n elektriese verlengingskoord vanuit ’n motorhuis gerol het.

Kobus van Rensburg, Ilana se skoonpa, onthou wat gebeur het.

“Ons het die Woensdag, omdat dit ’n vakansiedag was, in Riaan en Ilana se tuin gewerk,” onthou hy.

“Ek en twee baie betroubare werknemers was besig om krane in die agterplaas te installeer. Dit was juis vir Ilana gedoen omdat sy baie graag haar eie groentetuin wou gehad het.”

Van Rensburg vertel hy het ’n deel van ’n pyp benodig en was vir ’n kort tydperk weg van die huis toe die ongeluk gebeur.

“Een van die werkers, Jan, het vir Ilana vir ’n verlengingskoord gevra. Hulle was besig om slote in die grond te maak en het elektrisiteit nodig gehad vir van die toerusting,” verduidelik Van Rensburg.

“Die verlengingskoord wat Ilana in die huis gekry het was te kort en sy het toe in die motorhuis gesoek vir ’n langer koord.”

Van Rensburg sê Ilana het ’n opgerolde koord in die motorhuis gevind wat sy self na buite geneem het.

“Dit was egter ’n foutiewe verlengingskoord, en ongelukkig het of sy of een van die werknemers reeds die prop by die muur ingesit en aangeskakel.”

Ilana, met kaal voete op die nat gras van die vorige aand se reën, se gil het die werknemers op die perseel tot stilstand gebring.

“Ek het haar gebrande hande na die tyd gesien…” vertel Van Rensburg met ’n breek in sy stem.

“Toe die elektrisiteit deur haar lyf skop het haar hande, met die koord tussen in, opgeruk na haar bors.”

Van Rensburg sê sy werknemers het dadelik die bure om hulp geroep.

Die buurman het noodbehandeling op haar toegepas.

“Riaan, wat die oggend by die gim was, het toe by die huis opgedaag en oorgeneem by die buurman om sy vrou te probeer bybring.”

Van Rensburg sê nooddienste was binne minute op die toneel.

“Ilana het nie ’n pols gehad nie en terwyl paramedici haar probeer bybring het, het ek my kleinseun Ruan in my arms gehad,” sê Van Rensburg terwyl hy voor hom uit staar.

“Hy het nie verstaan wat aangaan nie. Ek onthou nog duidelik hoe hy huilend sê: ‘…maak Mamma eina! Hulle maak Mamma eina!’ Ek moes hom wegvat en om die huis loop.”

Ilana se skoonsuster Jolanda Felsko vertel verder as sy emosie hom oorweldig:

“Sy is net daar in die erf dood waar sy en Riaan hul lewe saam sou begin.”

Die egpaar is vier jaar gelede getroud, vertel Felsko.

“Lala het ons geleer om vinnig lief te hê. Sy het ’n groot liefde gehad vir die natuur en diere en sy was onsettend lief vir Riaan en hulle twee kinders.”

Felsko het Dinsdagoggend met Rekord gepraat, terwyl sy haar oorlede skoonsus se babatjie in haar arms sus.

“Riaan is nie alleen nie. Ons is almal so lief vir hom en hul twee kinders.”

Felsko bedank die Noord-Krisissentrum wat onmiddelik na die voorval op die toneel was om ondersteuning aan die familie te bied.

Felsko sê: “Lala was so ’n bedrywige mens. Ek kan my net voorstel dat sy vinnig kaalvoet uit die huis gehaas het om te help ’n verlengingskoord soek,” vertel Felsko.

“As sy dalk skoene aangehad het… as die gras dalk nie nat was nie… as sy maar net gesê het hulle moet wag tot dat my pa weer by die huis is… ”

Felsko sê die werknemers op die toneel is ook erg geskok.

“Die een werker, Jan het vir my pa kom sê: ‘Meneer my hart is baie seer, want ek het die mistake gemaak. Ek moes nie vir Mevrou ’n tweede extension kom vra het nie.’ My pa het hom toe verseker en gesê dat dit nie sy skuld was nie,” vertel Felsko.

*’n Roudiens vir Ilana van Rensburg vind Vrydag om 9:30 plaas vanuit die NG Kerk Montana.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button