Noordelike rookwolk is terug
Die onwettige brand van bande duur voort in die noorde.
‘n Toksiese rookwolk, veroorsaak deur brandende bande, hang sommige aande steeds oor Pretoria-Noord.
Inwoners vertel die onwettige verbranding van voertuigbande duur voort in ’n oop veld tussen die N4 snelweg en die Willem Cruywagen pad.
Verlede maand het ’n inwoner foto’s gedeel van die donkerwolk wat saans laat en in die vroeë oggendure soos ’n dik kombers in die lug hang.
GPFs in die omgewing sê die brandstigters is versigtig om nie ’n patroon te volg wanneer hul die bande brand nie.
Inwoner Danie Erasmus het vroeër aan Rekord gesê die bande word verbrand vir die staal wat dit bevat.
“Die plakkers verwyder die staal en verkoop dit aan herwinningsplekke,” sê Erasmus.
Nog ’n inwoner, Carlo Guelpa, het die veld verlede maand aan Rekord uitgewys waar die onwettige brande plaasvind.
Oorblyfsels van die uitgebrande bande en ’n wit laag as lê meters ver versprei in die oop veld.
Digte bosse rondom die veld bied skuiling vir die brandstigters.
Guelpa sê brandbestrydingsspanne is al voorheen ontbied na die toneel waar meter-hoë vlamme gedreig het om die veld te verswelg.
Inwoners bly ook bekommerd oor die impak wat die grootskaalse lugbesoedeling op die omgewing het.
“Die besoedeling duur voort en gaan definitief langtermynskade veroorsaak,” sê die inwoner wat aan Rekord die foto’s van die toksiese rookwolk verskaf het.
“Daar word nou nog meer gebrand, selfs sommer twee keer in een nag. Die plek is aan almal bekend. Sekerlik moes die owerhede tog kennis geneem het hiervan?”
Rekord het weer ’n versoek vir kommentaar aan Tshwane-metro en die departement van gesondheid gerig en wag op terugvoer.
Lees ook:
Raaisel oor donker wolk in noorde
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

