Waterlekkasie nagmerrie in die noorde
Waterlekkasies steek weer kop uit in Pretoria-Noord en Sinoville-omgewing.
Massas water wat in strate afstroom en die deurlopende lekkasie by watermeters het Noord-inwoners weer die hoenders in.
Inwoners in Montana, Sinoville en Pretoria-Noord kla oor skade aan eiendom en dae sonder water. Hulle meen talle waterlekkasies is die oorsaak hiervan.
Die vorige week is erwe in Sinoville onder water gelaat nadat ’n waterpyp op die hoek van Molopo-pad en Nicolastraat gebars het.
DA-raadslid Ben Wannenburg sê erf 154 in Nicolastraat was onder water wat deur die erf in die straat af en by ander eiendomme ingespoel het.
“Gallone water het soos ’n rivier uit die erf gevloei.” verduidelik Wannenburg.
’n Herstelspan is dieselfde dag ontbied om die waterlekkasie te hertel.
Wannenburg sê daar is die afgelope paar weke ’n toename in waterlekkasies in die Sinoville en Annlin-omgewing opgemerk.
“Mense moet ook onthou dat alles tyd neem om te herstel. Wanneer waterpype herstel word moet inwoners geduldig wees as die water vir ’n aantal ure af is.”
Wannenburg sê eiendomme wat dae sonder water is, kan ook nie noodwendig aan aan die lekkasies toegeskryf word nie.
“Nietemin is die vermorsing van water steeds ’n ernstige saak.”
In Pretoria-Noord sê raadslede is lekkende en gebarste waterpype ook weer ’n probleem.
Raadslid Dana Wannenburg het Koos de la Rey-, Suider-, Ben Viljoen- en Gerrit Maritzstraat uitgewys waar waterlekkasies die meeste voorkom.
“Die draai van seisoen kan moontlik ’n invloed hê op die toename van waterlekkasies. Die uitsit en krimp na gelang van weersomstandighede kan moontlik veroorsaak dat meer waterpype bars.”
Hy sê Tshwane-metro het vroeër verlede jaar epos-adresse bekendgemaak waarheen inwoners klagtes van waterlekkasies kan stuur.
“Mense sukkel gewoonlik om telefonies by die skakelbord uit te kom, so ek sal ook voorstel dat inwoners klagtes van waterlekkasies per epos na die metro stuur. Dan het hulle dit ook op skrif,” sê Wannenburg.
’n Epos kan gestuur word aan waterleaks@tshwane.gov.za of water1@tshwane.gov.za.
Sien video van waterlekkasie in Nicolastraat:
ks/
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.
- We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.

