CrimeLocal newsNewsUpdate

Verdagte in pastoor se moord in hof

Die hof het gehoor dat die verdagte vroeër vanjaar gedreig het om die hele gesin te vermoor.

‘n Pretorianer onder verdenking oor die moord op sy pastoor-skoonma het glo voorheen gedreig om haar dood te maak.

Stefan Visser wou Elsabe Van Niekerk saam met haar gesin om die lewe bring, het ‘n polisie-offisier Donderdag in die Pretoriase landdroshof getuig.

Kaptein Danie de Jager van die Wonderboompoort-polisie sê Visser het ook vertel dat hy daarna gaan selfmoord pleeg.

Die getuienis is gelewer in ‘n borgtogaansoek deur Visser, wat tot volgende week uitgestel is vir slotbetoë.

Elsabe se lyk is in April in Gezina by ’n paneelklopper-onderneming aangetref. Visser is dieselfde dag in Rietondale in hegtenis geneem.

Visser was voorheen getroud met Van Niekerk se dogter, Leandri. Hulle het twee jong kinders.

Die staat het vroeër aangevoer dat Visser se skoonpa die dag voor Van Niekerk se moord met hom in ’n argument betrokke was omdat hy nie onderhoud betaal het nie.

Die volgende dag het Visser en Elsabe Van Niekerk oor dieselfde onderwerp rusie gemaak.

Die hof het gehoor dat Visser by die paneelklopper met ’n klapmus en ’n vuisyster opgedaag het.

Dit was toe dat hy Van Niekerk na bewering vermoor het.

Die bure het glo ’n video en foto’s geneem wat deur die polisie ondersoek word.

Visser het na bewering met ’n motorfiets van die toneel gevlug en is later by die huis van sy huidige vriendin se ouma in hegtenis geneem.

Sy huidige vriendin is op die oomblik swanger met sy kind en was Donderdag in die hof.

Leandri en haar pa Dirk was ook Donderdag in die hof om verrigtinge self te volg.

Visser se prokureur, Philip van Staden, het in die hof beweer dat sy kliënt aan ‘n vorm van outomatisme gelei het.

Visser beweer hy onthou niks van die tydstip waarop die pastoor vermoor is nie.

Van Staden sê outomatisme is nie ’n geesetessiekte nie, maar ’n tydelike toestand waarin ’n individu sy geheue verloor.

“Dit kan twee sekondes wees of twintig sekondes. Maar dit is nie ’n geestessiekte nie,” het Van Staden die hof meegedeel.

Die nadoodse ondersoek het vasgestel dat die pastoor 31 keer met ’n mes gesteek en vier keer gesny is.

Visser bly in aanhouding en sal aanstaande Woensdag weer terug in die hof wees.

Lees ook: 

Skoonseun verskyn in hof na moord op geliefde pastoor

Vermoorde pastoor se skoonseun aangekla

Verdagte vas na moord op geliefde pastoor

Familielid vas na moord op pastoor

Brutal murder hits Moot

Mutilated woman found dead

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button