Operasie om donkerwolk op te klaar
Metro stel ondersoek in na noordelike rookwolk.
Tshwane-metro sê hy stel ondersoek in na die rookwolk wat deur brandende bande in die noorde van Pretoria veroorsaak word. Die metro beplan om binnekort stappe te doen en die onwettige brand van bande hok te slaan.
Tshwane-metro woordvoerder Lindela Mashigo het onlangs aan Rekord gesê die departement van omgewingsbestuur (department of environmental management services) is in die proses om ’n “nagtelike operasie” te reël.
Pretoria-Noord inwoners merk maande reeds ’n toksiese swart wolk in die omgewing wat soms in die aand of vroeë oggendure verskyn.
“Ek sien bykans elke derde aand die een geweldige rookwolk wat tussen 22:00 en 23:00 en soms tot 01:00 in die oggend in die lug hang,” het ’n inwoner in April aan Rekord verduidelik.
Die plek waar voertuigbande gebrand word is tussen die N4 snelweg en die Willem Cruywagenpad uitgewys.
Hier in ’n oop veld word bande by die hope gebrand. Volgens inwoners en lede van gemeenskapspolisieëringsforums (GPF) word die bande verbrand vir die staal wat dit bevat.
“Die departement (omgewingsbestuur) is in die proses om met die hulp van metro-polisie en die brandweer ’n operasie te reël en dié saak aan te spreek,” sê Mashigo.
GPF en brandweer is vroeër na die veld ontbied waar massiewe brande gedreig het om die veld te verswelg.
“As die bande eers brand is dit byna onmoontlik om enigsins naby te kom om die brandstigters voor te keer,” sê Crystal van den Berg van GPF sektor 1 en 2.
“Die vlamme strek wyd oor die veld. Vir 500 meter is vlamme al wat jy sien.”
Van den Berg sê die brandstigters is versigtig om nie ’n patroon te volg wanneer hulle bande brand nie.
“Sodra die bande vlamvat, vat hulle die pad en sal eers later terugkeer om die staal te kom oes wat hulle na herwiningsplekke neem vir geld.”
Van den Berg sê lede van die GPFs in die omgewing het by geleentheid mense naby die veld voorgekeer en probeer ondervra.
“Tydens een van die gevalle het die groep mense wat ondervra is aggresief geraak met ’n paar van ons lede. In so ’n geval is die ondersteuning en bystand van metro-polisie nodig om die situasie te monitor en beheer,” sê Van den Berg en verwelkom die nuus dat daar binnekort moontlik ’n oplossing sal wees om die rookwolk oor die noorde op te klaar.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
