Erf van onheil skoongemaak
Toe Rekord hierdie week die erf in Malherbe Straat besoek het was die voorheen beboste erf skoongemaak.
Pedofiel Gert van Rooyen se erf van onheil is uiteindelik skoongemaak.
Die stuk grond waar hy waarskynlik die diaboliese ontvoering van ses jong meisies beplan het, was jare lank ’n doring in die vlees van Capital Park.
Dit was asof die booshede van 26 jaar gelede moes voortleef in die vorm van volkome verwaarlosing van die erf.
Dit het ‘n nes vir rotte en ’n broeiplek vir siektes geword.
Rekord het die erf in Malherbe Straat hierdie week besoek en ontdek dat die beboste stuk grond skoongemaak is.
Raadslid Juanita du Plooy sê die erf was lanklaas ’n bron van kommer.
“Daar is nie enige probleme waarvan ek bewus is nie.”
Inwoner Mario Boshoff het ’n paar maande gelede gekla dat die probleem met die dig-beboste erf nou handuit ruk.
“Ek moet nou al die rankende plante wat oor die muur klim aan my kant afsny. Rotte klim ook oor die muur,” het hy gesê.
Vorige raadslid van die gebied Elma Nel het verlede maand nog vertel van die vele probleme wat die erf steeds veroorsaak.
Eienaarskap van die erf is vroeër aan die metro oorhandig en daar was sprake dat ’n kinderhuis of huis van veiligheid opgerig sou word.
“Dit was jare gelede, maar die erf is steeds leeg,” het Nel gesê.
Die waarheid oor die bedenklike bedrywighede van Gert van Rooyen en sy houvrou Joey Haarhoff bly na al die jare steeds begrawe.
Hy het haar lewe en toe sy eie met twee kopskote in 1988 beëindig ná ’n dolle polisie jaagtog deur die strate van die Moot.
Hulle is verbind met die ontvoering van ses jong meisies van Prtetoria.
Sy huis is daarna letterlik omgedolwe in ’n soektog na leidrade oor die lot van die ses meisies. Dit het uiteindelik niks opgelewer nie.
Al wat oor is, is ’n leë erf vol raaisels.
Die metro kon nie bereik word vir kommentaar oor toekomstige planne vir die erf nie.
Lees ook:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
