CrimeNews

Fietsryer aangeval en bewusteloos gelaat

Hy is bewusteloos langs die pad gelaat na hy gewurg is.

’n Fietsryer in die noorde van Pretoria is Dinsdagmiddag aangerand, beroof en bewusteloos in ’n straat gelaat.

Trisia de Villiers vertel haar man Danie is omstreeks 16:15 in Berglaan, Pretoria-Noord deur drie jong mans oorval. Hulle het hom met ’n skroewedraaier gesteek en gewurg.

“Hulle het hom so erg gewurg dat hy sy bewussyn verloor het,” sê sy.

De Villiers vertel haar man het naby die treinspoor in Berglaan verby die drie mans gery toe hulle hom aanval.

“Hulle het met hul rûe na hom in die straat afgeloop. Dit wil voorkom asof hulle sommer so op die ingewing van die oomblik besluit het om hom te beroof toe hy verbyry.”

De Villiers sê haar man is van sy fiets afgestamp en aangerand.

“Twee van hulle was gewapen met messe en die derde een het ’n skroewedraaier by hom gehad,” vertel sy.

Die aanvaller met die skroewedraaier het op haar man toegesak en hom in sy arm gesteek.

“Die steekwonde is nie so erg nie, maar een van die ander mans het hom aan sy nek gegryp en vreeslik begin wurg.”

Nadat Danie sy bewussyn verloor het, is die aanvallers weg met sy bergfiets, selfoon en kamera.

“Toe hy (Danie) weer bykom was hulle lank reeds weg en hy het in die straat opgeloop om hulp te soek.”

De Villiers sê ’n barmhartige motoris het uiteindelik gestop om haar man te help.

“Ons het die diefstal by die Pretoria-Noord-polisiekantoor gerapporteer. Die bergfiets is moontlik in Marabastad opgemerk, maar sover is nog niks teruggevind nie.”

De Villiers sê baie fietsryers en drawwers is daagliks in die straat te sien. “Dis nou glad nie meer veilig vir enigiemand om hier alleen te draf of fiets te ry nie.”

Lees ook: 

Man robbed in Centurion

Danish cyclist attacked and robbed at Voortrekker Monument

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button