CrimeLocal newsNews

Astrante diewe teiken noorde

Polisie opsoek na misdadigers na diewe toeslaan op ketting-ondernemings in Montana.

Astrante diewe het verskeie ketting-ondernemings in die noorde van Pretoria onlangs van groot bedrae kontant beroof.

Meer as een bende blyk agter die rooftogte te wees, sê die polisie in Sinoville.

“Ons is op soek na vyf vrouewerkers wat verlede week met sakke vol geld uit Checkers Hyper Montana in die Kolonnade winkelsentrum, gestap het,” sê woordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk.

Ook word vyf gewapende rowers gejag nadat drie eetplekke by Montana Crossing beroof en ’n werknemer gewond is.

Die vyf vrouediewe het sowat ’n week gelede toegeslaan. Die kontant wat hulle gesteel het, was geld van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa).

Dit is gehou by ’n betaalpunt in die supermark waar mense hul maandelikse maatskaplike toelae kan afhaal.

Die diewe het glo met toksakke vol van die geld by Checkers Hyper Montana uitgestap sonder dat hul deursoek is.

Van Dyk sê die verdagte werknemers was doenig met die balansering van die geld na sluitingstyd.

Hulle het voorgegee dat hulle die geld na ’n ander lokaal moes verskuif sodat dit getel kan word.

“Hulle het die geld geneem na ’n kantoor waar daar nie sekuriteitskameras is nie,” sê Van Dyk.

Dit is ’n algemene praktyk dat Sassa supermarkte en ander ondernemings gebruik as punte waar die ontvangers van staatstoelae hul geld kan trek.

’n Betroubare bron het vroeër aan Rekord gesê dat die diewe met meer as R1 miljoen uit die winkelsentrum gestap het.

Die eintlike bedrag kon egter nie onmiddellik bevestig word nie.

Sarita van Wyk, woordvoerder van Shoprite Checkers, het die diefstal bevestig.

“Die voorval is deel van ’n polisie-ondersoek en die supermarkgroep is dus nie in ’n posisie om verdere kommentaar te lewer nie,” sê sy.

“Dit is voldoende om te sê dat die geld wat gesteel is die eiendom van Shoprite Checkers was en dat voorsiening gemaak is om voort te gaan met Sassa-uitbetalings die volgende dag.”

Skaars ’n week na die diefstal, het vyf rowers drie eetplekke Sondagaand in die Montana-omgewing beroof.

’n Werknemer by een van die drie eetplekke wat langs mekaar geleë is, is lig gewond toe een van die rowers ’n skoot afgevuur het.

“Die rowers het drie eetplekke langs mekaar geteiken tussen 20:00 en 21:00,” sê Van Dyk.

Die werknemers is met vuurwapens gedreig vir kontant en selfone.

Van Dyk sê die rowers het met ’n onbekende bedrag in kontant gevlug.

Voorsitter van Sinoville GPF, Vernon Smith, sê hulle het in ’n blou Polo-sedan “met ’n lig op die dak” weggejaag.

Van Dyk sê die polisie soek onverpoos na die rowers, maar niemand is nog in hegtenis
geneem nie.

Lees ook:

Shock as Checkers employees steal from store

Rowers slaan toe by Montana Crossing

Sneaky hijackers hit the east

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button