Inbreker gevang op kamera
’n Week nadat die man op veiligheidskamera betrap is, is hy tydens ’n tweede inbraak in hegtenis geneem.
’n Man het sy rieme styf geloop toe hy eenkeer te veel inbreek in die Wonderboom-omgewing.
Die man, wat verbind kan word met minstens twee inbrake in die noorde van Pretoria, is onlangs in hegtenis geneem.
Sinoville-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê die dief is aangekeer nadat hy by ’n huis in die Wonderboom-omgewing ingebreek het.
“Hy is sowat ’n week gelede op ’n veiligheidskamera betrap by ’n huis waar hy ingebreek het, en is aangekeer toe hy nou onlangs ’n huis oorkant die straat geteiken het,” sê Van Dyk.
Inwoner Jan Malan het verlede week met Rekord beeldmateriaal gedeel wat wys hoe die dief by sy huis ingebreek het.

“Hy het Maandag 31 Oktober by my huis ingekom, sy ‘Kersfees-inkopies’ gedoen en dood normaal weggeloop met alles wat hy in my sportsak kon kry,” sê Malan.
Hy sê die dief het toegang tot sy huis gekry na hy ’n ruit gebreek het met ’n baksteen.
LEES OOK:Inbrekers steel laaste herinnering
“Hy het ingekom gekleë in ’n WP-trui en het uitgeloop met my Puma-hemp aan.”
Malan sê die dief is weg met elektroniese ware en juwele.
“’n Paar dae na die inbraak het ons huishulp die man in dieselfde omgewing gewaar,” vertel hy.
Meer as ’n week na Malan die inbraak aangemeld het, is die dief naby sy huis aangekeer waar hy ’n ander woning geteiken het.
“Ek is baie dankbaar polisie kon die man vang.”
*Beeldmateriaal van die inbraak in Rekord se besit word weerhou en sal as bewysstuk in die hof dien.
LEES OOK: Inbrekers gevang
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
