Nog drie honde weggegooi in Pretoria-Noord
“Die honde was in ’n verskriklike toestand in die Heatherdale-omgewing gevind.”
Nog drie verlate honde is in die Heatherdale-omgewing noord van Pretoria gevind.
Cilla Trexler van die Wollies-diereprojek sê twee van die honde is Sondag in Joanstraat gevind.
“Die reuntjie en tefie het verskriklik gelyk,” sê Trexler.
“Beide poedels se hare is lank en gekoek – dis duidelik dat hulle eienaar hul nie versorg het nie,” sê sy.
Die derde hond, ook ’n poedel-ras, is Dinsdagaand in dieselfde straat gevind.
Also read: Dog stolen from SPCA
“Die outjie was net so verwaarloos soos die ander twee en word ook nou hier by Wollies versorg.”
Trexler het vroeër die week aan Rekord vertel van ’n hond wat in dieselfde omgewing gevind is.
Dié hond is dragtig en volgens Trexler sal die tefie “nou enige dag kleintjies kry”.
Trexler sê nie een van die drie honde wat onlangs gevind is, is gesteriliseer nie.
Daar word bespiegel op die Wollies-diereprojek se Facebookblad dat dié onlangse gevalle die werk is van ’n hondeteler wat die diere weggooi sodra hulle nie meer ’n nut dien nie.
Al vier honde is veilig by die Wollies-diereprojek se skuilings in Hesteapark.
Also read: R20 000 in 3 hours for SPCA
Trexler vra dat enigiemand wat kennis dra van wie die eienaar(s) is, dit dadelik moet aanmeld.
Die plaaslike dierebeskermingsvereniging (DBV) het ook hul hande (en hokke) vol met diere wat weggegooi is of weggeloop het.
DBV-woordvoerder Jacqui Grove sê dit is veral ’n probleem in Desember en Januarie.
“Mense gaan op vakansie en los hul diere alleen. Sommige van die diere kom dan uit die erf en word na ons toe gebring deur besorgde mense wat hulle in die strate vind,” sê Grove.
“Dis hartseer dat baie van die eienaars nie die moeite doen om hulle diere by ons te kom haal nie.”
Grove vra dat alle diere-eienaars mikroskyfies vir hul honde en katte kry.
“Dis ’n vinnige proses om jou kat of hond te laat chip en dis dan baie maklik vir ons om die eienaar op te spoor as die dier wegraak.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



