’n Gesin in die Moot vrees daagliks vir hul lewens die afgelope twee maande.
Angs is hul metgesel nadat die huis in November met petrolbomme bestook is deur kwaadstokers in Jan Niemandpark.
Die inwoner wat die huis op dié erf huur, Albert van Tonder (48) het klagtes by die Villieria-polisiekantoor gelê.
Villieria polisie woordvoerder Kaptein Coba Brits sê die polisie is steeds op soek na die boosdoeners.
“Die saak word nog ondersoek,” het sy Dinsdag gesê.
Rekord het in November verlede jaar berig dat DA-raadslid van Wyk 87, Jason Jacobs, bewus is van die probleem.
“Van Tonder het my ingelig oor die erf, maar ek het dit nog nie besoek nie,” het Jacobs in November gesê.
Jacobs het toe gesê dat nog geen planne gemaak is om die erf te verbeter nie, maar dat hy terugvoer sal gee sodra hy die erf besoek het.
Jacobs nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.
Rekord kon ook nie die huiseienaar in die hande kry nie.
Lees ook: Die waarheid oor dwelms op straat
Die erf is al die afgelope twee jaar ’n doring in die vlees vir Van Tonder en sy gesin.
Hy glo dat die petrolbom-aanvallers op pad was om rusie te stook onder die inwoners van plakkershutte op die erf.
Volgens van Tonder verkoop die inwoners van die plakkershutte verskeie dwelms. Dit is glo waaroor die rusie gegaan het.
“Nie net is ons lewens in gevaar nie, maar ons word ook met die dwelmverkopers verbind. Hier het al baie keer mense aangeklop wat dink ons verkoop die dwelms.”
Van Tonder sê daar woon minstens twee mense in elke plakkershut.
“Hulle het nou die dag nog sinkplate aangedra. Ek neem aan hulle gaan dit gebruik om nog plakkershuise op te rig.”
Hy beweer dat daar slegs twee toilette op die eiendom is met geen waskamer.
“Ek weet nie waar hulle bad nie, maar dit kan sekerlik nie higiënies wees nie.”
Hy sê die hele perseel met die vervalle huis en die plakkershutte behoort aan die huiseienaar wat sy verhuurder is.
“Toe ons hier intrek het, was hier reeds ’n paar plakkershuise,” vertel Van Tonder.
Lees ook: Dwelms neem oor in die weste
“Ek het die huis begin herstel, maar het opgehou toe die eienaar skielik die plek wou verkoop.”
In 2015 het Rekord berig dat die Tshwane-metro bevestig het dat die erf se eiendomsgebruik deur die Tshwane-dorpsbeplanningskema gereguleer word.
In ’n vorige berig het voormalige metrowoordvoerder Patronella Molaeng gesê die huiseienaar moet toestemming van die metro hê om bykomende woonhede op ’n eiendom op te rig.
Daar is reëls waaraan voldoen moet word om toestemming te verkry.
“Hierdie regulasies het te make met die omgewing, die omvang van die geboue, die hoogte, grootte van die vloeroppervlakte, bouriglyne, titelaktes en verskeie ander,” het Molaeng destyds vertel.
“Indien die eienaar hierdie reëls oortree, kan die metro aan die eienaar ’n kennisgewing van oortreding bedien en vereis dat aan die grondgebruikersregte voldoen word.”
Die metro sou verlede jaar ondersoek na die erf ingestel het en terugvoer verskaf het.
Hierdie week kon die metro nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


