CrimeNews

OPVOLG: Saak uitgestel na verrassende nuwe inligting

Ek gaan lekker met hul koppe smokkel,” sê Smiley glo aan selmaat in die tronk.

André van Wyk (24), wat aangekla word vir die moord op Anika Smit, se borgaansoek sal Vrydag voortgaan by die Pretoria-Noord-landdroshof.

Die uitstel van die saak was ’n versoek van landdros Pierre Wessels na hy nuwe inligting en verklarings moes aanhoor wat Dinsdag aan die hof gebring is.

LEES OOK: Smiley vra om verskoning vir valse erkenning van moord op Anika Smit

Vroeër die oggend het Van Wyk (ook bekend as Smiley) se regsverteenwoordiger Corrie Niewenhuizen sy verklaring in die hof voorgelees, waarin Van Wyk sê hy is onskuldig en dat hy gedreig is om te sê hy het Anika Smit vermoor.

Na ’n vinnige breek het hofverrigtinge voortgegaan en staatsaanklaer adv. Tanya Carstens het ’n polisieverklaring voorgelees.

Volgens lt.kol. Mike van Aardt, ondersoekbeampte in die saak, het Van Wyk na hy 17 September homself aan polisie oorgegee het, erken dat hy Anika vermoor het.

LEES OOK: Anika Smit se ma vies oor gesloer

In die hof was die skokkende verklaring voorgelees hoe Van Wyk glo aan ’n selmaat in Kgosi Mampuru II gevangenis beskryf hoe hy Anika doodgemaak het.

Volgens Van Aardt het Van Wyk gesê hy wil bekend wees as “Smiley Scissorhands” en ’n tatoeëermerk kry van twee hande waarvan bloed afdrup.

Van Wyk het glo erken dat hy Anika se hande afgesny het na sy hom gekrap het en dat hy die moordtoneel skoongemaak het.

‘n Ander grusame erkenning, volgens die voorgeleesde verklaring, was dat Van Wyk glo ’n kat aan die brand gesteek het – terwyl die dier nog gelewe het.

Na Van Aardt se verklaring in die hof voorgelees is het Niewenhuizen weereens beklemtoon dat geen DNS-bewyse is dat van Wyk die moord gepleeg het nie.

LEES OOK: Nuwe gesig van Anika se moord aangekla

Hy het gesê die staat se enigste bewyse is Van Wyk se aanvanklike bekentenis en die woord van ’n tronk-selmaat.

Na middagete is hofverrigtinge weer hervat en adv. Carstens het eerste spreekbeurt gekry.

Sy het gesê in ses jaar na Anika se moord het niemand Van Wyk of sy familie gedreig nie.

Sy bevraagteken die tydperk wat Van Wyk gewag het voor hy met die nuwe weergawe vorendag gekom het dat twee mense hom by ’n kuierplek gedreig het om homself aan polisie oor te gee en te sê hy het “een van die mees grusaamste moorde” gepleeg.

Van Wyk het ’n waarskuwingverklaring onderteken en volgens Carstens het hy op minstens vier geleenthede gesê hy is skuldig aan die moord.

“Ek gaan lekker met hul koppe smokkel,” het Van Wyk, volgens bewerings, ook gesê.

Carstens het ook ander voorvalle; soos die bewering dat Van Wyk al van sy ma gesteel het genoem en sy geloofwaardigheid bevraagteken.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button