CrimeNews

Man voor gesin op kleinhoewe vermoor

“Hy het op die bed geval en is langs sy vrou dood.”

’n Man is Donderdagoggend vermoor op ’n kleinhoewe in Kameeldrift-Wes.

Nicky Harmse (61), sy vrou, dogter en vyfjarige kleinseun is in die vroeë oggendure deur vyf rowers oorval.

Jan Nel, voorsitter van die GPF in die omgewing, sê Harmse se dogter is eerste wakker gemaak deur een van die rowers in haar kamer.

“Sy het gegil. Toe haar pa uit die slaapkamer hardloop, is hy deur een van die rowers geskiet.”

Nel sê twee van die indringers het vuurwapens in hul besit gehad en ’n derde was gewapen met ’n skroewedraaier – wat moontlik ook gebruik is om by die huis in te breek.

“Bianca, die dogter, sê die rower het twee skote na haar pa geskiet. Die eerste een was mis, maar die tweede koeël het hom in die bors getref.”

Lees ook: Kameeldrift survivor speaks about horrific robbery

Nel sê Harmse het met die skietwond teruggestrompel na sy slaapkamer.

“Hy het op die bed geval en is langs sy vrou dood.”

Harmse se dogter en vrou is vasgebind en die rowers het die huis geplunder.

Met die hulp van die vyfjarige seuntjie in die huis, wat skynbaar nie opgemerk is deur die rowers nie, kon die vrou en dogter hulself bevry.

“Hulle het by hul bure gaan hulp soek en die polisie is in kennis gestel.”

Die gesin was nie onmiddelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Nel sê misdaad in die Kameeldrift-Wes omgewing, veral op kleinhoewes, het skrikwekkend toegeneem.

“Mense het ’n absolute vrees vir huis-aanvalle. Dis kommerwekkend dat dit ons grootste vrees is – ons gaan nie meer dood van ouderdom nie, die mense word in hul huise vermoor,” sê hy.

Lees ook: Man se pleidooie kon haar nie red nie

“Dis tyd dat die gemeenskap saam staan om hul families te beskerm.”

Nel vertel van die “groenlig-projek” wat die GPF in die Kameeldrift-Wes gemeenskap begin het.

“Ons kry ’n veiligheidswag saam met ’n opgeleide hond om op verskeie punte te waak by ’n groen flitsende lig,” verduidelik hy.

“Die wagte kommunikeer op die gemeenskapsradio en rapporteer enige verdagte persone of voertuie.”

Nel sê tydens ’n proeftydperk van 14 dae het die GPF reeds goeie terugvoer ontvang.

“Sigbaarheid maak ’n groot verskil en die flitsende groenlig gaan ’n kenmerkende waarskuwing word vir alle kriminele in die omgewing.”

Nel vra dat inwoners deel word van die projek om misdaad te help bekamp.

“Vir meer inligting kan mense ons webtuiste besoek by www.mootvalleigemeenskap.co.za.”

Lees ook: Hunt for Kameeldrift robbers launched

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button