CrimeNews

OPVOLG: Dogter praat na moordvonnis

“Dit is baie moelik. Stefan was iemand wat ons baie lief gehad het – hy was soos my pa se kind.”

Na meer as ’n jaar praat ’n Moot-inwoner oor haar ma se dood.

Elsabe van Niekerk se lyk is in April verlede jaar in Gezina by ’n paneelklopperonderneming aangetref nadat sy 31 keer met ’n mes gesteek is.

Haar skoonseun, Stefan Visser, is verlede maand vir haar moord gevonnis nadat hy ’n jaar gelede in hegtenis geneem is.

Hy het 25 jaar tronkstraf gekry.

Van Niekerk se dogter, Leandri Visser, sê sy voel nie dat 25 jaar genoeg is nie, maar sy voeg by dat die familie nou gemoedsrus het.

Leandri Visser. Foto: Kayla van Petegem

“Dit is baie moelik. Stefan was iemand wat ons baie lief gehad het – hy was soos my pa se kind,” sê Leandri.

Stefan en Leandri was nege jaar getroud nadat hulle omtrent 14 jaar saam was.

Leandri sê dat Stefan ’n drankprobleem gehad het.

“As hy baie gedrink het, het hy maklik aggressief geraak, maar hy was nie ’n slegte persoon nie.”

Leandri beskryf haar ma as ’n liefdevolle mens.

“Ek dink nie daar was iemand wat nader aan die Here kon leef nie. Haar lewe het oor God en haar kinders gegaan,” sê sy.

LEES OOK:  Visser pleads guilty to mother-in-law’s murder

“My ma het ook altyd geloop en sing. As jy gesien het, het sy kliphard gesit en bid – sy het altyd gebid as iets haar gepla het.”

Van Niekerk en ’n vriendin het hul eie gemeente in die weste van Pretoria gehad.

Elsabe van Niekerk. Foto: Facebook

Hulle het tydelik ’n saal in Zandfontein gehuur waaruit hulle bedien het.

Leandri sê haar ma het berading gedoen en Sondagskool gegee.

Sy was ook ’n radio-omroeper op die radiostasie Rainbow Gospel Radio.

Nico en Corné Liebenberg van Rainbow Gospel Radio sê Van Niekerk was geliefd onder dié radiostasie se luisteraars.

“Ons het byvoorbeeld ’n luisteraar in België wat elke oggend spesiaal baie vroeg opgestaan het om te luister na pastoor Elsabe se program: Begin vandag met God, wat elke weeksdag van 06:00 tot 07:00 uitgesaai is.

Van Niekerk laat haar man, twee kinders en twee kleinkinders agter.

Leandri sê die familie beplan om ’n gedenkdiens vir haar ma te hou, noudat die skuldige vir haar ma se moord gevonnis is.

Sy voeg egter by dat dit moontlik eers in Desember gaan wees.

LEES OOK: Moordverdagte oor drie maande in hof

Stefan is dieselfde dag wat hy Van Niekerk vermoor het, in Rietondale in hegtenis geneem.

Hy het glo voorheen gedreig om haar dood te maak.

Stefan Visser. Foto: Facebook

Hy het vroeër verlede jaar vir borgtog aansoek gedoen, maar sonder sukses.

Stefan het weer op 21 September verlede jaar in die landdroshof verskyn en die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

Hy is toe in die Noord-Gautengse Hooggeregshof gevonnis.

Die staat het vroeër aangevoer dat Visser se skoonpa die dag voor Van Niekerk se moord met hom in ’n argument betrokke was omdat hy nie sy vaderlike verpligtinge nagekom het nie.

Die volgende dag het Visser en Van Niekerk oor dieselfde onderwerp rusie gemaak.

Die hof het gehoor dat Visser by die paneelklopper met ’n klapmus en ’n vuisyster opgedaag het.

Dit was glo toe dat hy Van Niekerk doodgemaak het.

Leandri bedank die Wonderboompoort-polisie vir hul werk.

LEES OOK: Visser to stand trial in 2017

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button