CrimeNews

Prostitute terug in die weste

"Kort nadat ons die plakkershut afgebreek het, het munisipale werkers die onwettige storting met ‘n stootskraper kom skoonmaak.”

Nadat ’n plakkershut wat vermoedelik vir prostitusie gebruik was, vernietig is, blyk dit dat prostitusie weer sy kop in die weste van Pretoria uitsteek.

Inwoner en misdaadbestryder, Eric Cordier sê dat hy Woensdag weer ’n matras onder die bome gesien het in Schuttestraat nadat hulle die plakkershut omtrent ’n maand gelede afgebreek het.

“Kort nadat ons die plakkershut afgebreek het, het munisipale werkers die onwettige storting wat daar was met ’n stootskraper kom skoonmaak,” sê Cordier.

Ten spyte van pogings om die onwettige storting op te ruim, gaan die storting steeds voort.

Cordier sê ook dat oorgroeide bome met laag hangende takke ’n probleem is.

“Nie net steek die bome die prostitute weg nie, maar dit bied ook skuiling vir skelms.”

LEES OOK: Nog prostitute in die weste ontdek

Hy sê nog ’n probleem in die straat is sluipslapers wat vure maak om verskeie goed te verbrand.

“Hulle brand op ’n daaglikse grondslag. Ons kan nie meer so aangaan in Pretoria-Wes nie,” sê Cordier.

Hy vra die metro vir hulp.

In ’n vorige berig het Cordier gesê dat hy op die prostituut-plakkershut afgekom het tydens ’n patrollie.

“As jy in die straat verby gery het kon jy nie eens die plakkershut sien nie. Hulle het selfs vir hulle ’n pad gemaak deur die bosse om weg te hardloop indien dit nodig was,” sê Cordier.

“Oral in die plakkershut het daar kondome en onderklere gelê.”

Hy voeg by dat prostitusie ’n groot probleem in die weste is.

Dit is veral prominent langs ’n spruit in Vom Hagenstraat.

“Dit bly ’n moelike situasie vir inwoners, polisie en maatskaplike werkers.”

Kaptein Bonginkosi Msimango van die Hercules-polisiestasie het vroeër gesê hoewel prostitusie steeds plaasvind, was dit onder beheer.

“Inwoners moet ons inligting gee as hulle op iets afkom of as hulle meer weet,” het Msimango gesê.

LEES OOK: Prostitution ongoing in the west

“Elkeen het regte, maar dit is baie belangrik dat hul praktyke nie die regte van diegene rondom hulle belemmer nie.”

Cordier sê: “Die polisie is baie vinnig om op te tree as daar ’n klagte is, maar hulle hou hulself blind as die prostitute terugkom.”

Pretoria-Wes GPF-woordvoerder, Thesigan Pillay het gesê dat die polisie min doen om prostitusie te bekamp.

Hoërskool Pretoria-Wes se hoof het verlede jaar gesê dat sy bang is die prostitute teiken haar skool se leerders.

Die raadslid van die wyk kon nie bereik word vir kommentaar nie.

Die onwettige storting voor daar skoongemaak is. Foto: Kayla van Petegem
Die onwettige storting voor daar skoongemaak is. Foto: Kayla van Petegem
Verskeie items word op ‘n daaglikse basis in Schuttestraat verbrand. Foto: Verskaf
Die matras is terug in Schuttestraat. Foto: Verskaf
Die matras is terug in Schuttestraat. Foto: Verskaf
Eric Cordier by die vorige plakkershut, Foto: Kayla van Petegem
Die vorige plakkershut in Schuttestraat. Foto: Kayla van Petegem

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button