CrimeNews

Nog ’n onopgeloste moord in die weste wat doodgeloop het

“Ons het op sy lyk langs sy kar afgekom. Hulle het hom doodgeskiet en sy kar ook daar gelos."

Nog ’n onopgeloste moordsaak in die weste van Pretoria het doodgeloop.

Dit is sowat sewe maande kort van sewe jaar sedert Hein Roos in Elandspoort doodgeskiet is, en sy moord is nou nog nie opgelos nie.

Sy vrou, Petra, sê dat hy in ’n poging tot kaping op 3 Desember 2010 doodgeskiet is.

“Ons het op sy liggaam langs sy motor afgekom. Hulle het hom doodgeskiet en sy motor ook daar gelos. Hy was op pad huis toe,” sê sy.

Hein was 31 jaar oud en is by die Zandfontein-begraafplaas begrawe.

“Ons as ’n familie is al moedeloos en het ook al vrede gemaak met die feit dat my man se moordenaars nie gekry sal word nie.”

“Op die polisie se stelsel kom Hein se saak as ‘ongemerk’ op.”

Sy sê talle bewyse in haar man se moordsaak is al na die polisie geneem.

“Die polisie het al die nodige bewyse gehad. Soos wat ek verstaan het hulle al verdagtes in hegtenis geneem. Hoe kan die saak net doodloop?”

LEES OOK: OPVOLG: Dogter praat na moordvonnis

Petra sê dat haar man se saak nie die enigste saak is wat doodgeloop het nie.

Sowat twee jaar gelede het ’n bakkie in Petra se huis vasgery.

Sy sê dat dié saak ook by die polisie as ‘ongemerk’ verskyn.

“Dit was soos ’n aksiefliek toe ek die onderstebo bakkie in die rigting van die huis sien kom,” het Petra in ’n vorige berig gesê.

“Die bestuurder het teen ’n hoë spoed gery en ek het gehoor hoe hy probeer rem, maar dit het misluk. As gevolg van die spoed kon hy nie stop nie.”

Sy het gesê die voertuig het omgeslaan voordat dit die huis getref het. Haar seun was destyds in die badkamer toe dit gebeur het.

“Ons het baie skade gehad. Die huis se hele fondasie het geskuif. Ons het nie versekering gehad nie, maar gelukkig het iemand alles vir ons verniet herstel.”

Petra is moedeloos.

LEES OOK: Onopgeloste moorde los familie moedeloos

“Ek verstaan net nie hoe albei sake by die polisie kon doodloop nie,” sê sy.

Petra beskryf haar man as liefdevol.

“Ons het omtrent saam grootgeword. Dit het gevoel asof ’n groot stuk van my weggeruk is toe hy dood is,” sê sy.

Twee ander families is ook opsoek na antwoorde nadat hul kinders se moorde ook nie opgelos is nie.

Marlien du Plessis se lyk is op 16 April 2015 gekry.

Jury Hayes is dieselfde jaar op 2 Maart doodgeskiet.

Kommentaar kon nie teen druktyd van die polisie verkry word nie.

‘n Foto versameling. Heel voor is Hein en sy vrou Petra Roos. Foto: Verskaf
Hein en sy dogter Bianca Roos. Foto: Verskaf
Hein Roos (heel agter) saam met familie en vriende. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button