’n Bejaarde vrou van Centurion het woes weerstand gebied toe ‘n man onlangs haar handsak wou gryp.
Die 73-jarige vrou, wat anoniem wou bly, sê sy besoek weekliks dieselfde haarsalon vir die afgelope agt jaar.
Sy was juis daarheen op pad toe sy aangeval word.
Sy het daardie oggend besluit om te stap omdat die salon nie ver van haar huis af is nie.
“Ek het verby die Eldoraigne-biblioteek geloop toe ek net ’n gevoel kry,” vertel sy.
LEES MEER: ‘Hulle het my amper doodgeslaan’
“Toe ek omdraai, toe staan daar ’n man aan die oorkant van die pad, en meteens was hy op my.”
Hy wou haar handsak gryp, maar sy het daaraan vasgeklou.
Omdat die man sterker was, het hy haar in die straat saamgesleep terwyl om lewe en dood aan die handsak klou.
Die man het weggehardloop toe daar ’n vrou langs haar stilhou.
“Sy het ’n wit motor gery, maar ek kan nie haar naam onthou nie. Sy het ’n sekuriteitsvoertuig in die omgewing om op die uitkyk te wees vir die aanvaller.”
Daar was geen teken van hom nie.
“Die vrou was so gaaf om my toe by die haarsalon te gaan aflaai, en ek het nie behoorlik dankie gesê nie.”
Sy sê sy wil so graag van die vrou hoor wat haar lewe gered het.
“Intussen het ek reeds vier besoeke aan die dokter gebring want my knie is nerf-af geskuur op die teerpad.”
Sy sê die knie het infeksie opgedoen en word nou stadiger gesond as wat verwag word.
LEES MEER: Obama approves more aggressive posture in anti-Taliban fight
“My kleinseun wat by my woon, het sê dis net ’n handsak en dat die vent my kon geskiet of met ’n mes gesteek het.”
Sy sê dat sy nie so daaraan gedink het nie – net dat dit haar handsak is, en nie syne nie.
“Die aggressie in sy oë het gewys dat hy glo die handsak behoort aan hom,” sê sy.
Sy sou nooit die man verdink het nie want hy was ordentlik aangetrek.
“Ek neem maar aan hy teiken bejaarde vrouens wat nie baie sterk is om terug te baklei nie.”
Sy sê sy sien nie meer kans om in die strate rond te loop nie.
“Ek moet nou maar net in die kompleks rondloop, agter geslote hekke.”
LEES MEER: NASIONALE NUUS: Seuns jammer nadat hulle kat skiet
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
