Polisie wag nog op forensiese uitslae oor die moord van ’n oud-polisieman wat verlede jaar in ’n mangat gekry is.
Danie Dreyer (64) se lyk is op 4 April in Flowerstraat, Capital Park gekry.
Dit het6 gebeur nadat sy voormalige vriendin Estelle Reddy (36) haarself aan polisie oorgegee het.
LEES OOK: Nog ’n onopgeloste moord in die weste wat doodgeloop het
Reddy word saam met haar huidige vriend Gerhardus Papenfus (41), Kevin Johnson (29) en Ruvan Regionald Furst (42) vir Dreyer se moord aangekla.
Villieria-polisiewoordvoerder kaptein Coba Brits sê die vier verdagtes, wat reeds in hegtenis geneem is, bly in aanhouding.
“Al die verdagtes is al gearresteer. Die volgende hofdatum moet nog bevestig word,” sê sy.
Die vier se aansoek om borgtog is in Mei verlede jaar geweier.
Dreyer is verlede jaar op 28 Maart in sy huis in Villieria vermoor, glo oor ’n geldstryery.
Reddy het speurders na ’n adres in Flowersstraat gelei waar Dreyer se lyk in ’n mangat gelaat is.
Papenfus, Johnson en Furst het glo sy lyk daarheen geneem.
Suur is toe glo oor die lyk gegooi in ’n beweerde poging om van bewyse ontslae te raak.
Papenfus is kort na die vonds van Dreyer se lyk vasgetrek terwyl Johnson op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem is.
LEES OOK: Skoonma moordverdagte van Pta hierdie maand in hof
Furst het homself op 12 April aan die polisie oorhandig.
Dreyer se seun het verlede jaar aan Rekord vertel dat sy pa langer as 20 jaar ’n luitenant-kolonel in die polisie was.
Hy het by die polisie-hoofkantoor gewerk.
Nadat Dreyer die polisie verlaat het, het hy sy pa se onderneming Jakaranda Grafstene gekoop.
Hy het die onderneming langer as 20 jaar besit en bedryf.
Hy laat drie seuns en ’n dogter agter.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

