Pretoria se Mev. Dowe Suid-Afrika het ‘n man aan die hand gebyt toe hy haar onlangs in die Moot beroof het.
Toe sy klagtes by die polisie wou lê, het hulle vir haar gelag, vertel sy.
Gehoorgestremde Florein Marais (51) het haar trauma hierdie week met Rekord gedeel.
Sy vertel dat sy en ’n vriendin op 22 Mei van ’n winkel in Waverley teruggestap het.
“Ek het my blommetjiesrugsak voor op my bors gedra. Binne-in was my selfoon en ’n lewensbelangrike kommunikasiemiddel vir dowe mense,” sê Marais.
“Iemand het verby ons geloop en my gestamp. Toe tel hy ’n bottel op, breek dit en druk dit teen my nek.”
LEES OOK: Moot resident wins pageant
Marais sê kon die bottelpunte voel, maar dit het haar nie gesny het nie.
“Die man het aan die sak geruk en ek het dit met albei hande vasgegryp. Hy het toe die bottel om my lyf teen my rug gedruk, maar nie baie hard nie.”
Die man het die bottel laat val, maar Marais kon dit nie hoor nie.
“Ek het gesien sy hande is leeg. Toe buig ek my kop af en byt sy hand. Dit was net bloed,” sê Marais.
“Hy het my foon gegryp en gevlug.”
’n Motoris het stilgehou en die twee vroue na Marais se huis gebring.
Nadat sy gekalmeer en pleisters op die stukkende vingers geplak het, is haar man Dirkie saam met haar na die Villieria-polisiekantoor.
LEES OOK: Moot resident comes third in Mrs Deaf SA pageant
“Ek het beduie ek is doof en lees lippe in Afrikaans. Ek het net ’n saaknommer benodig vir die foon se versekering.”
Marais sê een polisieman het haar gevra hoekom sy nie Engels verstaan nie.
In haar poging om ’n verklaring af te lê, het sy beduie, gepraat, geteken en selfs vir die polisieman geskryf wat gebeur het.
“Toe sê die polisieman hy glo my nie. Ek het hom die bottel gewys wat ek van die toneel af saamgebring het. My klere was nog vol bloed. Hy het net vir my gelag,” vertel sy.
“Die polisieman het beduie ek moet wag. Toe gaan roep hy ’n kollega. Ek moes weer my storie vertel en weer het hulle vir my gesê ek jok. Ek het net begin huil.”
Marais sê dat sy kwater vir die polisie was as vir die aanvallers.
Polisiewoordvoerder Kaptein Coba Brits het bevestig dat die aantygings teen die polisie aangemeld is ondersoek sal word.
“’n Klagte van roof is gelê en die nodige ondersoek word gedoen.”
Marais sê: “Basiese goeie maniere, soos oogkontak, help baie. Ek is nie dom omdat ek stokdoof is nie.”
Sy is verlede jaar as Mev. Dowe Suid-Afrika gekroon.
LEES OOK: Moot beauty ready for Miss SA
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
