CrimeNews

Kommer oor misdade wat bejaardes in Moot teiken

Sy vriendin laai die vrou by haar broer af, maar wanneer sy by haar kantoor kom sien sy haar beursie is kwyt.

Moot-inwoners is bekommerd oor diefstalle waarin veral bejaardes geteiken word.

Inwoner Louis Steyn vertel hoe ’n bejaarde vriendin, wat deeltyds werk, die oggend vroeg op pad werk toe was.

“Terwyl sy by die verkeerslig op die hoek van Frates- en Hertzogstraat staan, nader ’n vrou haar vir ’n saamrygeleentheid – die vrou moet glo haar broer iewers ontmoet,” sê Steyn.

“Die vrou klim in, buk kort-kort af en vryf teen haar een been wat glo ‘seer’ is.”

Steyn sê sy vriendin laai die vrou by haar broer af, maar wanneer sy by haar kantoor kom sien sy haar beursie is kwyt.

LEES OOK:Verdagte aangekeer oor bejaardes se moord

“Haar handsak wat op die motorvloer gestaan het, is oop en haar beursie met alles wat gewoonlik daarin is, het spoorloos verdwyn,” sê hy.

“Daar is ook belangrike dokumente weg wat sekerlik sommer in die veld weggevoeter is – ID-boek, rybewys, bankkaarte, en nog baie ander dokumentasie. Dit kos ’n klomp geld om nuwes te kry.”

Steyn sê sy vriendin is twee weke gelede weer beroof.

Sy was op pad na ’n winkel in Waverley.

“Haar motor het sy beste jare agter die rug en daar is herstelwerk wat gedoen moet word, maar die geld is skraal en die lewenskoste bitter hoog,” sê hy.

“By herstelplekke wil niemand vir haar die herstelwerk op rekening doen sodat sy dit kan afbetaal nie.”

Steyn vertel toe sy vriendin uitklim, wys ’n man na die agterwiel en sê die wiel moet reggemaak word en dat sy nie so kan ry nie.

“Uit desperaatheid vra sy hom wat hy van ’n motor af weet. Hy sê dat hy vir ’n motorwerkswinkel werk en dat hy dit vir haar vir R600 sal regmaak.”

Steyn sê sy vriendin het die geld gaan trek en dit aan die man oorhandig.

LEES OOK: Bejaardes leer van brande

“Die man het gesê hy sal dadelik die nodige onderdele kry en die kar regmaak. Hy het selfs gesê dat hy haar nie sal kul nie.”

Die man het egter nooit terug gekom nie.

“Ons het nooit hierdie soort kriminele in die Moot gehad nie,” sê hy.

“Nodeloos om te sê sy kon nie haar huur betaal nie, ook nie brandstof vir die motor nie, wat nog steeds stukkend is.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button