’n Hofdatum is vasgestel op die moord van ’n oud-polisieman wat verlede jaar in ’n mangat gevind is.
Danie Dreyer (64) se lyk is op 4 April in Flowerstraat, Capital Park gekry.
Die vier verdagtes in die saak, Estelle Reddy (36), Gerhardus Papenfus (41), Kevin Johnson (29) en Ruvan Regionald Furst (42), sal na verwagting oor twee maande in die Pretoria Hooggeregshof verskyn.
Reddy, Dreyer se voormalige vriendin, het haarself kort na sy dood aan die polisie oorgegee.
Villieria-polisiewoordvoerder kaptein Coba Brits sê die vier verdagtes, wat reeds in hegtenis geneem is, bly in aanhouding.
Die vier se aansoek om borgtog is in Mei verlede jaar geweier.
Dreyer is verlede jaar op 28 Maart in sy huis in Villieria vermoor, glo oor ’n geldstryery.
Reddy het speurders na ’n adres in Flowersstraat gelei waar Dreyer se lyk in ’n mangat gelaat is.
Papenfus, Johnson en Furst het glo sy lyk daarheen geneem.
Suur is toe glo oor die lyk gegooi in ’n beweerde poging om van bewyse ontslae te raak.
Papenfus is kort na die vonds van Dreyer se lyk vasgetrek terwyl Johnson op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem is.
Furst het homself op 12 April aan die polisie oorhandig.
Dreyer se seun het verlede jaar aan Rekord vertel dat sy pa langer as 20 jaar ’n luitenant-kolonel in die polisie was.
Hy het by die polisie-hoofkantoor gewerk.
Nadat Dreyer die polisie verlaat het, het hy sy pa se onderneming Jakaranda Grafstene gekoop.
Hy het die onderneming langer as 20 jaar besit en bedryf.
Hy laat drie seuns en ’n dogter agter.
Dreyer was sy hele lewe ’n inwoner van die Moot.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


