Die ma van Madelein Murray (41) is moedeloos na haar dogter Dinsdag alreeds vir agt maande vermis is.
Francis Venter sê sy soek antwoorde.
“Ek hoor niks van niemand in verband met my dogter se saak nie. Dit maak my mal,” sê sy.
“Ek voel soos ’n voël wat op ’n tak sit – niks gebeur nie.”
Madelein en haar seun Hanco (21) het op 11 November oor die laagwaterbrug oor die Apiesrivier gery toe hul voertuig in ’n kitsvloed meegesleur is.
LEES OOK: Soektog na vermiste vrou gestaak
Hanco is lewend gevind en soekspanne het die wrak van die motor in die rivier gevind.
In ’n vorige berig het Venter gesê sy het meer vrae as antwoorde oor haar dogter se verdwyning.
“Ek het geen idee hoe my kleinseun uit die motor gekom het of hoe Madelein verdwyn het nie,” het sy gesê.
“Ek weet nie hoekom hulle in die eerste plek op die pad was nie.”
Venter beskryf haar dogter as ’n liefdevolle mens.
“Sy het altyd probeer help waar sy kan,” sê Venter.
“Niks kon haar onder kry nie en sy het altyd met ’n glimlag op haar gesig rondgeloop.”
Murray was in Vereeniging op laerskool en in Nelspruit op hoërskool.
Venter sê dat Murray al vir die afgelope 18 jaar in die Moot in Capital Park woon.
“Ek mis my dogter vreeslik baie. Dinsdag was vir my ’n vreeslike hartseer dag,” sê sy.
In ’n vorige berig het Venter aan Rekord vertel dat sy nie dink dat haar dogter op die brug was toe hul voertuig deur die vloed meegesleur is nie.
LEES OOK: Silverton-man steeds vermis
Murray het al voorheen aan Venter genoem dat sy vir haar lewe vrees.
“Ek het in die dorp gestap en iemand gesien wat soos my dogter lyk,” het Venter gesê.
“Ek het dadelik gekyk of dit sy is, maar toe ek aan haar skouer vat en sy omdraai, was dit ’n vreemde vrou.”
Wonderboompoort polisiewoordvoerder konstabel Mandlakayise Zwane sê dat die polisie alles in hulle vermoë doen om Murray te vind.
Zwane moedig ook inwoners aan om die polisie te skakel indien iemand meer inligting het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
