CrimeNews

VIDEO: OPVOLG: Pretoria-vrou se toekoms verskeur met een skoot

Eksklusief – Carine van Staden praat vir die eerste keer oor haar nagmerrie-ondervinding ná ’n militêre man haar geskiet het. Sien beeldopname hier:

’n Skraal jong vrou met geboë skouers en arms om haar middel gevou, beweeg stadig na ’n rusbank van ’n sportklub in die hart van Mountainview.

Nog ’n maand gelede, het die 28-jarige Carine van Staden híér geoefen vir die Skopbokswêreldkampioenskap.

Nou lê hierdie droom aan skerwe – so ook haar ideaal om haar eie sportklub te stig en jong skopboksers af te rig.

Op 10 Augustus is haar wêreld in ’n oogblink verander toe sy trompop in die bors geskiet is in die noorde van Pretoria.

LEES OOK: NUUSFLITS: Pta vrou (28) geskiet deur militêre man

Die aanvaller is nooit in hegtenis geneem nie, maar ’n weermaglid is van ’n poging tot moord aangekla ná die skietery.

Hy sal op 5 Oktober in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.

Carine se pa Johan het vroeër aan Rekord beskryf hoe sy dogter ten aanskoue van haar verloofde, Johan Harmse, geskiet is.

Nou deel Carine haar eie nagmerrie-ondervinding.

Sien video:

Die koeël het haar hart skrams gemis en haar linkerlong getref.

Carine sê sy het op pad na Montana-hospitaal verskeie kere haar bewussyn verloor.

Sy onthou net flitse van wat gebeur het.

“Ek onthou ek het wakker geword toe hulle my sy oopgesny het. Ek kan dit duidelik onthou want dit was vreeslik seer,” sê Carine.

“Ek het my oë oopgemaak en vir die dokter gesê: ‘Eina, jy maak my seer’… en toe is ek weer weg. Eers toe ek weer wakker word, het ek die dreineringspypie gesien wat hulle in my sy geplant het.”

Carine is later oorgeplaas na George Mukhari hospitaal.

“Ek het nie ’n mediese fonds nie. Ek weet my ouers wou graag die beste sorg vir my hê, maar finansieel kan ons dit nie bekostig nie.”

Ten spyte van haar eie pyn, is Carine besorg oor haar gesin.

LEES OOK: OPVOLG: Nog ’n terugslag vir Noord-vrou na militêre man haar skiet

“Die hospitaal is ver en ek het sleg gevoel dat hulle elke dag moes heen en weer ry om my te kom sien.”

Carine het in die eerste week na sy geskiet is, wonderbaarlik goed herstel.

Sy is na ’n week uit die hospitaal ontslaan om by die huis aan te sterk.

“Ek was so optimisties dat ek net beter sou word, maar toe skielik was dit net asof alles weer fout gaan.”

Na ’n opvolgbesoek by die hospitaal is daar gevind dat daar weer bloed in Carine se long is.

“Hulle het die bloed uitgespoel, maar nie lank daarna nie het my long weer begin opvul.”

Verlede week het Carine ’n prosedure ondergaan waar sy onder haar bors oopgesny is om ontslae te raak van nog bloed in haar long.

“Ek is weer terug huis toe gestuur vir twee weke om te rus. Ek sien die dokter weer op 3 Oktober,” sê sy.

“Hulle (dokters) sal dan besluit of dit nodig is vir ’n groot operasie waarin hulle my hele sy gaan moet oopsny om my long te heg.”

Carine sê sy is nie gretig oor dié operasie nie.

LEES OOK: OPVOLG: Pta vrou herstel na militêre man haar skiet

“Ek het reeds baie pyn. En die dokter het gewaarsku ek sal nog meer pyn hê na die operasie,” sê sy.

“Hulle (dokters) gaan deur die spiere van my sy moet sny en dit sal baie lank vat om weer te heg.”

Carine is vroeër die jaar gekies om in die 2017 Skopbokswêreldkampioenskap deel te neem in Budapest.

“Dit was my grootste droom,” sê Carine terwyl sy vinnig ’n traan wegvee.

Sy was van plan om daarna haar eie klub te begin om jong mense die fyner van skopboks te leer.

“Ek was seker ek sou borge daarvoor kry,” vertel sy.

“Soms kan ek nog steeds nie glo wat gebeur het nie. Dat alles net so skielik kon verander het.”

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button